Pretoria Polisie bly op wenpad in Bloemfontein
Ná hul bonuspunt-oorwinning van die afgelope naweek oor die Bloemfontein Crusaders is Pretoria Polisie nou bo-aan die puntelys in hul afdeling in die Gemeenskapsbekerreeks.
Pretoria Polisie het Saterdag in Bloemfontein vier drieë gedruk om volpunte te behaal tydens hul oorwinning van 31-26 oor die Bloemfontein Crusaders in die Gemeenskapsbekerreeks.
Met hierdie oorwinning het Polisie hulself in die eerste plek op die punteleer in hul afdeling (Afdeling B) in dié reeks gevestig.
Polisie moes egter baie hard werk vir hierdie oorwinning, nadat hulle vir ’n groot deel van die wedstryd agter was. Die telling het regdeur die wedstryd wipplank gery en Polisie se heelagter, Ruan van Loo, het sy span heelwat punte gekos met onakurate stelskopwerk.
Toe die tuisspan se linkervleuel, Griffen Colby, agt minute voor die eindfluitjie hul vierde drie druk, wou dit lyk of die manne van Bloemfontein ’n bonuspunt-oorwinning sou behaal, aangesien hulle ná die suksesvolle doelskop met 26-21 voorgeloop het.
Polisie het egter met ’n reuse terugvegpoging begin en in die 78ste minuut het die veteraan slot, Imille Keyser, oorgeduik vir sy span se derde drie. Van Loo het die doelskop verbrou en die telling het op 26-elk gestaan.
Polisie het daarna van die afskop af verwoed aangeval en twee minute later het Van Loo opgemaak vir al die punte wat hy met sy skopwerk verbrou het toe hy die wendrie gaan druk het.
