Bulls beëindig Cheetahs se onoorwonne status
Die Bulls het hul goeie vorm van 'n week gelede behou toe hulle die Cheetahs Saterdagaand in Bloemfontein met 39-20 pakslae gegee het.
Die Bulls het die Cheetahs se onoorwonne status in vanjaar se SuperRugby toernooi beëindig toe hulle die Vrystaters op hul tuisveld in Bloemfontein met 39-20 geklop het.
Hoewel die Bulls ’n paar kanse gehad het om hul vierde drie vir die bonuspunt te druk, kon hulle dit net-net nie regkry nie.
Die Bulls het van die afskop af baie gevaarlik gelyk en hoewel die Cheetahs eerste punte aangeteken het met ’n strafdoel, het hulle regdeur die eerste helfte nooit gelyk na ’n span wat ’n gevaar vir die Bulls se doellyn ingehou het nie.
Die Bulls het die eerste helfte voorlangs oorheers en daarom kon hulle ook die meeste van die aanvalswerk doen. Na 17 minute van verdedig is die Cheetahs se linie die eerste keer geklop toe Handré Pollard een van sy nou reeds kenmerkende drieë gaan druk het.
Die Bulls se tweede drie het net meer as tien minute later gekom en dit was iets so reg uit die rugby-boeke. Die Bloues het die fases opgebou en nadat die bal uiteindelik langs die lyn af laat loop is, terwyl dit deur voor- en agterspelers hanteer is, het Bjorn Basson die afrondwerk gedoen.
Die Cheetahs se bestuurspan het sekerlik baie hard met hul manne gepraat tydens rustyd, want dit was ’n ander span wat vir die tweede helfte opgedaag het. Hulle het onmiddelik druk op die Bulls geplaas by die afbreekpunte. Na verskeie fases van aanvallende spel het Raymond Rhule die lyn gebreek toe hy twee vaste voorspelers moes klop nadat hy die bal op vol spoed ontvang het. Hy het regdeur genael vir die tuisspan se eerste drie.
Hoewel die Bulls daarin kon slaag om die pas van die wedstryd effens stadiger te maak, het die Cheetahs steeds op die aanval gebly en halfpad deur die tweede helfte was hul tweede drie op die telbord. Boom Prinsloo het ’n dryfbeweging afgerond.
Hierna het die Bulls egter weer beheer oorgeneem. ’n Strafdoel en skepdoel deur Pollard is opgevolg met ’n drie deur Jan Serfontein, wat die wedstryd basies buite die tuisspan se bereik geplaas het. Die manne van Bloemfontein het uiteindelik net te veel foute gemaak, terwyl hul dissipline hul ook gereeld in die steek gelaat het.
Puntemakers:
BULLS: 39. Drieë: Handré Pollard, Bjorn Basson, Jan Serfontein. Doelskoppe: Handré Pollard (3). Strafdoele: Handré Pollard (5). Skepdoel: Handré Pollard (1)
CHEETAHS: 20. Drieë: Raymond Rhule, Boom Prinsloo. Doelskoppe: Joe Pietersen (2). Strafdoele: Joe Pietersen (2).
Bulls: 15. Jesse Kriel, 14. Bjorn Basson, 13. JJ Engelbrecht, 12. Jan Serfontein, 11. Francois Hougaard, 10. Handrè Pollard, 9. Rudy Paige, 8.Pierre Spies (kaptein), 7. Lappies Labuschagne, 6. Deon Stegmann, 5. Victor Matfield, 4. Jacques du Plessis, 3. Trevor Nyakane, 2. Adriaan Strauss, 1. Mornè Mellett.
Plaasvervangers: 16. Callie Visagie, 17. Dean Greyling, 18. Grant Hattingh, 19. Hanro Liebenberg, 20. Piet van Zyl. 21. Tian Schoeman, 22. Jurgen Visser, 23. Marcel van der Merwe
Sharks: 15. Willie le Roux, 14. Cornal Hendricks, 13. Francois Venter, 12. Michael van der Spuy, 11. Raymond Rhule, 10. Joe Pietersen, 9. Tian Meyer, 8. Jean Cook, 7. Oupa Mohoje, 6. Boom Prinsloo, 5. Francois Uys (kaptein), 4. Carl Wegner, 3. Coenie Oosthuizen, 2. Torsten van Jaarsveld, 1. Danie Mienie.
Plaasvervangers: 16. Stefan Coetzee, 17. BG Uys, 18. Maks van Dyk, 19. Tienie Burger, 20. Steven Sykes, 21. Shaun Venter, 22. Willie du Plessis, 23. Johan Sadie.
Skeidsregter: Stuart Berry
Assistent skeidsregters: Jaco van Heerden, Lourens van der Merwe.
TV skeidsregter: Johan Greeff.
