Bulls lyk weer na uitspeelkandidate
Die Bulls het hul ritme en fokus teruggekry en as hulle op hul vertoning van Saterdag teen die Cheetahs in Bloemfontein kan voortbou, sal hulle waarskynlik vanjaar weer kandidate wees om deur te dring na die uitspeelfase van die SuperRugby toernooi.
‘n Week is ‘n lang tyd in Suid-Afrikaanse rugby. Pierre Spies en sy Bulls het hierdie stelling weer bewys toe hulle die Cheetahs op laasgenoemde se tuisveld in Bloemfontein met 39-20 karnuffel het.
Wat ookal fout was in die Bulls-kraal in die eerste weke van vanjaar se SupeRugby-reeks, is duidelik reggestel. Die verskil in spelers se lyftaal oor die afgelope twee weke teenoor daardie eerste week, spreek boekdele. Hulle maak boonop baie minder foute, wat daarop dui dat die regte fokus terug is in die span.
Saterdag se vertoning teen die Cheetahs het ook daarvan getuig dat die span van Frans Ludeke sy ritme begin vind het en die resep onder die knie begin kry oor hoe om ‘n teenstander stelselmatig te oorrompel. Dit moet in gedagte gehou word dat die manne van Bloemfontein se seisoen goed begin het en dat hulle reeds met die Sharks (in Durban) en die Blues van Nieu-Seeland afgereken het in hul eerste twee kragmetings. Die Vrystaters is dus nie ‘n swak span nie. Dit maak die wyse waarop hulle tot oorgawe gedwing is deur die Bulls, veelseggend.
Veral die wyse waarop die Bulls dit reggekry het om die tuisspan in die eerste helfte te oorheers, was ‘n openbaring vir almal wat geglo het Ludeke se span gaan vanjaar aan die onderste deel van die kompetisie se puntelys eindig. Nog ‘n aspek van die Bulls se spel wat aan hul ondersteuners rede kan gee om opgewonde te raak, was die wyse waarop hulle die vaste fasette oorheers het.
Victor Matfield is besig om wedstrydfiks te word en dit lyk of hy tóg gaan bewys dat hy die atletiese vermoë het om so laat in sy dertigerjare steeds met die jong manne in die lynstane mee te ding. Sy algehele werkverrigting was ook besonder goed en hy voer waarskynlik tans meer laagvatte per wedstryd uit as in enige stadium vroeër in sy loopbaan.
Die Bulls se vertoning in die vaste skrums was strate beter as aan die begin van die seisoen, veral as dit in gedagte gehou word dat die Cheetahs die Sharks drie weke gelede aan flarde geskrum het én dat die Bulls tydens hul opwarmingswedstryd teen die Vrystaters gesukkel het in dié afdeling van die spel.
Baie ondersteuners van die Bulls sal egter veral opgewonde raak oor die wyse waarop Handré Pollard besig is om sy rol as generaal in die agterlyn te vervolmaak. Agter ‘n pak voorspelers wat weekliks beter speel, het Pollard ook sy ritme gevind en skielik lyk die Bulls se agterlyn na een van die gevaarlikstes in die kompetisie.
Nouja, die Bulls is terug onder die top ses spanne, wat beteken dat hulle beslis weer kandidate kan wees vir die uitspeelrondes in vanjaar se SupeRugby-reeks wanneer dié fase in Junie-maand aanbreek. Hulle geniet eerskomende naweek ‘n loslootjie en as hulle weer begin oefen sal manne soos Arno Botha en Hencus van Wyk ook reg wees om geledere te versterk. Spies en sy troepe sal weer op 21 Maart in aksie wees wanneer hulle die Western Force van Perth op Loftus Versfeld pak.
