Local sportSport

Polisie klop College Rovers in doodsnikke

Ná drie agtereenvolgende oorwinnings in die Gemeenskapsbekerreeks is Pretoria Polisie reeds met hul een voet in die uitspreelrondtes en ’n oorwinning in hul laaste wedstryd in die ligafase sal hulle van ’n plek in dié uitspeelwedstryde verseker.

Pretoria Polisie se puik oorwinning van 20-19 oor College Rovers die afgelope naweek plaas Nico Luus en sy span nou in ‘n baie sterk posisie om te kwalifiseer vir die uitspeelfase van die Gemeenskapsbekerreeks, wat tydens die Paasnaweek in Rustenburg sal plaasvind.

Polisie is geloot in ‘n baie sterk groep (Groep B) en daar was sedert die begin afwagting onder klubrugby-liefhebbers om te sien watter twee spanne van die Bobbies, College Rovers (Sharks) en Raiders (Leeus) in dié groep na die kwarteindrondte gaan deurdring.

Met drie oorwinnings na mekaar lyk Polisie se kanse al hoe beter en hy kan sy plek in die uitspeelrondtes reeds eerskomende naweek bespreek, as hy met Raiders kan afreken. Om Polisie se goeie oorwinning die afgelope naweek in perspektief te plaas, kan genoem word dat sy teenstanders in die vorige twee seisoene elke jaar ten minste die halfeindrondte van die toernooi gehaal het. In 2013 het hy teen Despatch in die eindstryd verloor en verlede jaar het die uiteindelike kampioen, Rustenburg Impala, hom in die halfeindstryd uitgeskakel.

Die oorwinning was egter nie maklik nie. Polisie se losskakel, Dillon Laubscher, het die wenpunte een minuut voor die eind­fluitjie deur middel van ‘n strafdoel behaal. Polisie het egter verdien om te wen, nadat hy halfpad deur die eerste helfte nog erg gesukkel het en in daardie stadium met tien punte agter was.

Nadat Heinrich Rademeyer egter in die 22e minuut van die eerste helfte die Bobbies se eerste drie gaan druk het, het die span stadig maar seker ‘n greep op die wedstryd gekry. In die tweede helfte het loskopstut, Hannes Ludick, Polisie se tweede drie gaan druk, wat uiteindelik beteken het dat die drieë-stryd ook met twee teen een gewen is. Christopher Micklewood, losskakel en kaptein van die Durbaniete, het sy span egter in die wedstryd gehou met akkurate skopwerk en hy het uiteindelik vier strafdoele behaal.

As die Bobbies eerskomende Saterdag net ‘n oorwinning kan behaal teen Raiders, sal hy die luuksheid hê om in die laaste ligaronde uit te rus voor die uitspeelrondes, aangesien hy op 21 Maart ‘n loslootjie het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button