Local sportSport

Tuks terug aan bopunt van puntelys ná kuikenmoord teen SUT

Tukkies se Varsitybekerspan het Maandagaand goed teruggebons met ’n reuse oorwinning oor die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) ná hul onnodige nederlaag teen die Pukke verlede week.

Tukkies is terug in die eerste plek op die Varsitybeker puntelys, nadat hulle die agterosse in die kompetisie, die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) Maadagaand in Pretoria met 63-8 afgeransel het.

In die proses het Pote Human se span nege drieë ingeryg en ook hul punteverskil op die puntelys drasties verhoog. Die interessante aspek van hul nege drieë was die feit dat geen speler daarin kon slaag om meer as een drie te druk nie, wat beteken dat byna ’n derde van die 23-tal elk ’n kans gehad het om agter die doellyn te gaan kuier.

Die feit dat ses van dié drieë deur voorspelers gedruk is, is ’n bewys van die wyse waarop Tukkies voorlangs oorheers het. Die arme Vrystaters kon eenvoudig nie die bal in die hande kry nie, aangesien Tukkies die vaste fasette sowel as die afbreekpunte oorheers het.

Human het ’n paar van sy ster spelers laat rus, terwyl hy ook vroeg in die tweede helfte begin het om ander staatmakers met plaasvervangers om te ruil.  Onder die senior spelers in die span was dit slegs die kaptein en flank, Wiaan Liebenberg, wat regdeur die wedstryd sy gebruiklike inklimspel gelewer het.

Tukkies se ander flank, en ’n man wat nét so ’n verbasende hoë werkverrigting het, Jannes Kirsten, het sy span se rekening een minuut na die afskop van die wedstryd geopen met die eerste drie. Daarna het die drieë met reëlmaat gekom, totdat die plaasvervanger haker, Jan Enslin, sowat tien minute voor die eindfluitjie die tuisspan se negende en laaste drie gaan druk het.

In ’n wedstryd soos hierdie kan ’n mens natuurlik nie werklik uitblinkers uitsonder nie. Dayan van der Westhuizen, die vaskopstut wat vanjaar al twee keer vir die Bulls op die bank gesit het sonder om speelkans te kry, het egter gewys hy is lus vir rugby. Reniel Hugo het ook gewys hy kan die land se volgende lynstaankoning word en die Bulle sal moet vashou aan dié man se talent, want hy speel elke jaar beter rugby.

Tukkies se twee senters, JT Jackson en Dan Kriel, het weer gewys dat die Bulle baie diepte in dié posisie het. Vraag is net of al hierdie manne in Pretoria sal bly, aangesien almal nie vir die Bulls en die Bulle se Curriebekerspan sal kan speel nie.

Die jong losskakel, Dewald Human, het ook gewys dat hy in die toekoms groot rugby kan speel. Hy maak soms onnodige foute, maar hy het verseker die talent om ’n puik speler te word. Miskien is heelagter dalk sy beste posisie, waar hy besis dieselfde tipe spel as manne sos Geo Aplon en Cheslin Colbe sal kan opdis.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button