Boks gloriedae herleef met wêreldtitelgeveg by Emperors Palace
Saterdagaand se IBO wêreldtitel boksgeveg tussen Tommy Oosthuizen en Ryno Libenberg het boksliefhebbers in Gauteng se verbeelding so erg aangegryp dat die kaartjies weke voor die tyd reeds uitverkoop is.
Vir die eerste keer in meer as twee dekades vind daar ’n boksgeveg tussen twee Suid-Afrikaners plaas wat die bokspubliek se verbeelding só sterk kon aangryp dat kaartjies vir dié toernooi weke voor die tyd reeds uitverkoop is.
Hierdie geveg laat ’n mens dink aan die dae van Gerrie Coetzee teen Kallie Knoetze, Pierre Coetzer teen Johnny du Plooy en Chralie Weir teen Doug Lumley.
Hierdie keer is dit weer twee boerseuns, die een uit Boksburg aan die Oos-Rand en die ander uit Krugersdorp aan die Wes-Rand, wat mekaar eerskomende Saterdagaand gaan pak. Hulle boks egter nie net vir ’n Suid-Afrikaanse titel of ’n groot betaaldag, soos in die geval van die makro Suid-Afrikaanse tweegevegte van die verlede nie. Wanneer Tommy Oosthuizen en Ryno Liebenberg Saterdagaand by Emperors Palace in Kempton Park saam deur die toue klim, is die Internasionale Boks Organisasie (IBO) se ligswaargewig wêreldtitel op die spel.
Dis geen geheim dat boks die afgelope 20 jaar drasties agteruitgegaan het in Suid-Afrika nie. Hierdie tendens kom vreemd genoeg ook in lande soos Amerika voor en as dit nie was vir supersterre soos Floyd Mayweather en enkele ander nie, sou boks in Amerika ook al teen die planke gewees het soos hier in Suid-Afrika.
Op hierdie stadium lyk dit of die toekoms van die sport in Europa – en spesifiek Oos-Europa – gesetel sal wees.
Juis weens die kritieke situasie waarin boks as sport in Suid-Afrika verkeer is Saterdagaand se belangrike geveg tussen Tommy Oosthuizen en Ryno Liebenberg so belangrik vir Suid-Afrikaanse boks en spesifiek vir boks onder die Afrikaanssprekende gemeenskap.
Hierdie geveg laat ouer boksliefhebbers weer terugdink aan die sewentiger-, tagtiger- en vroeë negentigerjare van die vorige eeu toe manne soos Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Mike Schutte, Jimmy Abbott, Pierre Fourie, Pierre Coetzer, Johnny du Plooy, Bennie Knoetze, Corrie Sanders, Piet Crous, Charlie Weir, Bushy Bester en – les bes – Brian Mitchell, nog in die boksarenas van Suid-Afrika in aksie was.
Manne soos Coetzee, Knoetze, Schutte, Du Plooy, Coetzer, Weir en Lumley kon stadions soos die Ysskaatsarena in Wembley, die Ellispark Tennisarena en die Superbowl by Sun City vol maak met gevegte teen mekaar. Dié gevegte het nie eers altyd ’n belangrike titel op die spel gehad nie, maar dit het nogtans die verbeelding van die Suid-Afrikaanse publiek aangegryp.
Oosthuizen, die man van die Oos-Rand, sal beslis as gunsteling in die kryt klim. Dié seun van die gewese Suid-Afrikaanse middelgewig kampioen, Charles, is na 24 professionele gevegte nog onoorwonne. Hoewel hy nie bekend is as uitklop-spesialis nie, het Oosthuizen al 13 van sy opponente planke toe gestuur. Hy was ook die Super Middelgewig wêreldkampioen van twee boksorganisasies (WBA en IBO), maar sowat ’n jaar gelede het hy besluit om afstand te doen van dié titels en op te skuif na die ligswaargewig afdeling, nadat hy gereeld probleme met sy gewig opgetel het. Oosthuizen is ’n kliniese, wetenskaplike bokser met handspoed en voetwerk waarvan baie top kampioene net kan droom. As hy Saterdag op sy beste opdaag sal hy moeilik geklop word, maar dis te betwyfel of hy Liebenberg maklik sal uitslaan.
Liebenberg, aan die ander kant, is die vegter. Hy is die Kallie Knoetze van modene boks – ’n man met ’n gevaarlike regter, ’n groot hart en ’n ewe groot mond. Sy grootpratery voor ’n geveg het hom al byna in die verleentheid gehad, soos sy geveg teen die Rus, Denis Grachev, verlede jaar getuig. Vooraf het Liebenberg vir al wat leef en beef vertel hoe hy die Rus “se kop van sy lyf af gaan slaan”, maar uiteindelik was hy gelukkig om dié geveg (erg bebloed, met ’n toegeslaande linkeroog) te oorleef en boonop te wen, met die hulp van ’n twyfelagtige beslissing.
In Liebenberg se laaste geveg, teen die Kanadees, Eleider Alvarez, het hy in Oktober verlede jaar boonop ordentlik pakslae gekry. Baie kenners glo juis dat hy ’n bietjie te groot hap om Oosthuizen so gou na daardie boksles aan te vat.
Wat ookal die finale uitslag gaan wees, hierdie geveg sal beslis besonder baie doen om die geloofwardigheid en gewildheid van boks in Suid-Afrika te herstel.
* Die drie voorgegegte in Saterdagaand se “Stand and Deliver”-toernooi by Emperors Palace is almal titelgevegte in eie reg. In die middelgewig-afdeling sal die opwindende jong Dowayne Combrink veg teen Giovanni Bushby van Oos-Londen om die WBA se Pan-Africa titel.
Die huidige Statebond kampioen in die liggewig afdeling, Richard Commey, sal ook sy Statebond titel verdedig teen die Suid-Afrikaanse kampioen, Thompson Mokwana.
Die eerste geveg van die aand is dié tussen Ashley Dlamini en Jasper Seroka vir die Suid-Afrikaanse junior liggewig titel.
