Tommy Oosthuizen is weer ’n wêreldkampioen
Tommy Oosthuizen het Saterdagaand by Emperors Palace vir Ryno Liebenberg ’n boksles gegee in hul wêreldtitel geveg wat vooraf groot belangstelling uitgelok het.
Tommy Oosthuizen se oortuigende oorwinning oor Ryno Liebenberg in hul lankverwagte boksgeveg om die Internasionale Boksorganisasie (IBO ) se ligswaargewig titel het ’n paar boksfeite aan die Suid-Afrikaanse publiek bevestig.
Laat ’n mens maar die onsmaaklike deel eerste afhandel. Die feit dat een van die drie beoordeelaars, Simon Xamlashe, die geveg aan Liebenberg toegeken het met ’n puntetelling van 115-113 wys presies wat fout is met boks in Suid-Afrika.
Daar is geen logiese manier waarop enige bokskenner hierdie geveg aan Liebenberg kon toeken nie. Die man het ’n boksles by Oosthuizen gekry en dit was duidelik dat die twee boksers nie in dieselfde liga is nie. Liebenberg het Oosthuizen regdeur die 12 rondtes byna nooit ordentlik raakgeslaan nie. Xamlashe, ’n man wat al langer as 20 jaar as boksbeoordeelaar optree, moes dus duidelik ’n Liebenberg-ondersteuner gewees het wat waarskynlik emosioneel geraak het oor die geveg en dalk kwaad was oor die feit dat Oosthuizen eintlik met sy teenstander gespot het in die kryt.
Toe Rekord na die geveg aan die IBO se verteenwoordiger langs die kryt, Len Hunt, vir kommentaar vra oor dié omstredenheid, het hy erken dat dié voorval vir sy organisasie ’n verleentheid is. Oosthuizen se afrigter, die bekende Harold Volbrecht, was woedend en hy het aangedring op ’n formele ondersoek na Xamlashe se bevoegdheid en dat hy sy telkaart moet verduidelik.
Suid-Afrikaanse boks is jare al in die moeilikheid en sulke voorvalle kan niks goeds beteken vir Boks Suid-Afrika (BSA) se reeds bedenklike reputasie en geloofwaardigheid nie. Die voorval kan nou alle ander gevegte wat onder BSA se gesag plaasvind onder verdenking bring.
Terug na die geveg self. Liebenberg se reputasie het eintlik skade gely, want vooraf is dit wyd bekendgemaak dat hy die een was wat die promotor gevra het vir hierdie geveg. Dis die derde geveg agtereenvolgens waartydens Liebenberg gedwing word om sy grootpraat-woorde van voor die aksie te sluk. Teen Eleider Alvarez van Colombië is hy in die sewende rondte gestuit, terwyl hy gelukkig was om as wenner aangewys te word ná sy geveg teen die Rus, Denis Grachev.
Oosthuizen, daarenteen, het weer gewys dat hy waarskynlik Suid-Afrika se talentvolste bokser is. Hy kán boks, wat beteken hy probeer nie noodwendig elke keer sy teenstander se kop van sy lyf af slaan nie. Hy is ’n wetenskaplike bokser in die volle sin van die woord en hy het Liebenberg ’n eerstehandse boksles geleer.
Diegene wat kla oor Oosthuisen se mannewales in die kryt, toe hy Liebenberg met narstreke getart het, het seker vergeet hoe Liebenberg tydens die bekendstelling van die geveg opgetree het. Toé is Liebenberg se wangedrag, waartydens hy Oosthuizen voor die TV-kameras begin rondstamp het, as “showbusiness” afgemaak.
’n Mens kan net hoop dat Oosthuizen sy persoonlike probleme oorkom het en dat hy in die toekoms sy loopbaan ernstig sal opneem en weg sal bly van nagklubs en drank. Hy het beslis die vermoë om die beste Suid-Afrikaanse bokser van die huidige era te word en nóg wêreldtiteles is nie onmoontlik nie.
