Centurion wen Assupol klubreeks
Centurion se rugbyklub het vanjaar weer ’n bulspan wat hul stem behoorlik dik sal maak in die Carltonbeker liga. Dit het hulle bewys deur Tukkies Saterdag in die eindstryd van die Assupol Klubreeks as kampioene te onttroon.
Na vyf droeë jare het die Centurion rugbyklub Saterdag weer ’n belangrike trofee gewen, toe hulle vir die eerste keer sedert 2010 as die kampioen in die Assupol klubreeks gekroon is.
Centurion se eerstespan het Tukkies met 26-22 tydens ’n spannende wedstryd in die finaal van dié reeks geklop.
Dit was uiteindelik Centurion se karakter en veggees wat aan hulle die beker gegee het, terwyl Tukkies net hulself te blameer het dat hulle nie hul titel met sukses kon verdedig nie. Die studente se dissipline het hulle sleg in die steek gelaat en hulle moes op een stadium met 13 man klaarkom toe hulle vir ’n paar minute twee manne gelyktydig op die kantlyn gehad het wees geel kaarte.
Tukkies het ook twee drieë verbrou weens spelers wat die bal verloor het nadat hulle reeds oor die doellyn is. In albei gevalle was dit weens hardnekkige verdediging en die kanniedood-houding van die Centurion manne wat Tukkies van hierdie punte ontneem is.
Die studente het uiteindelik drie drieë teen Centurion se twee gedruk, maar puik skopwerk deur Juan Grobler en Stanley Twiname het die knoop vir die manne uit die suide van Pretoria deurgehaak.
Centurion se sterk pak voorspelers het die grondslag vir hul oorwinning gelê, terwyl hul hardnekkige verdediging ook ’n groot bydae gelewer het tot hul sukses. Hulle het die wendrie in die doodsnikke van die wedstryd gedruk danksy die krag van hul baie goeie pak voorspelers, wat oor die doellyn gedryf het sodat agtsteman Tristan Slabbert kon afrond.
In die ander eerstespan eindwedstryde van die toernooi het Brakpan vir NWU Vaal met 48-6 gewen, die Pukke was te sterk vir Impala (31-10) en Northam het Letaba met 43-3 geklop. Tukkies het beide die o.21 en die o.20 liga gewen.
In die o.21 en o.20 liga is Tukkies en UJ onderskeidelik as kampioene gekroon.
