Lappies uit, Arno Botha in Bulls beginspan
Die Bulls pak die Crusaders Saterdag sonder Lappies Labuschagne, die flank wat tot dusver vanjaar loshande hul beste voorspeler was, maar Frans Ludeke-hulle is gelukkig dat een van die beste jong sterre in die land gereed is om Labuschagne se plek in te neem.
Die Bulls afrigter, Frans Ludeke, het die stutte Morné Mellett en Trevor Nyakane terug in sy beginspan wat Saterdag op Loftus Versfeld teen die Crusaders in ’n SupeRugby wedstryd kragte meet.
Beide stutte het as plaasvervangers teen die Force opgedraf, maar ruil plekke met Dean Greyling en Marcel van der Merwe, wat die keer van die bank af sal speel.
Victor Matfield ruil ook plekke met Grant Hattingh, met Suid-Afrika se mees ervare SupeRugby speler wat weer op nommer vyf uitdraf en Hattingh wat afskuif bank toe.
In nog ’n verandering begin Arno Botha op flank. Hy vervang die beseerde Lappies Labuschagne, wat nie betyds van ’n seer borsspier herstel het nie. Botha skuif op van die bank en sy plek daar word deur Hanro Liebenberg ingeneem.
Ludeke het die pluspunte uit die sege oor die Force beklemtoon, maar gemaan dat die Crusaders heelwat momentum opgebou het met seges oor die Lions en Cheetahs en dus ’n gevaarlike teenstander gaan wees.
“Ons het klomp dinge reg gedoen teen die Force, maar ons afronding en verdediging het by tye te kort geskiet. Daar was ook nie ’n uitklophou toe hulle net 13 spelers op die veld gehad het nie. Daar is min uitdagings groter as om die Crusaders te klop, so ek is seker daarvan dat die span met heelwat vuur sal opdraf.”
Die Vodacom Bulls-kaptein, Pierre Spies, stem saam. “Ons het ’n paar goeie dinge gedoen, maar ook by tye flou opsies geneem en dit het ons byna die wedstryd gekos. Dit is net nie goed genoeg op hierdie vlak nie. Ons moet speel soos die kampioenspan wat ons glo ons kan wees.”
Spies glo die ondersteuners sal ook ’n hupstoot lewer. “Ons hoop op heelwat ondersteuning hierdie naweek. Die Crusaders is ‘n goeie span, maar hierdie is ons tuiste en ons moet dit verdedig. Ons het reeds twee keer hier verloor en kan net eenvoudig nietoelaat dat dit weer gebeur nie.”
Die Bulls se span (met getal Super-wedstryde) is: Jesse Kriel (6), Francois Hougaard (77), JJ Engelbrecht (54), Jan Serfontein (33), Bjorn Basson (76), Handré Pollard (18), Rudy Paige (12), Pierre Spies (kaptein, 108), Arno Botha (24), Deon Stegmann (84), Victor Matfield (143), Jacques du Plessis (20), Trevor Nyakane (47), Adriaan Strauss (110), Morné Mellett (29). Plaasvervangers: Jaco Visagie (0), Dean Greyling (58), Marcel van der Merwe (22), Grant Hattingh (39), Hanro Liebenberg (1), Piet van Zyl (48), Tian Schoeman (1), Jurgen Visser (27).
* Intussen het Nollis Marais ook sy span bekendgemaak vir die Blou Bulle se wedstryd teen die Pumas in die Vodacombekerreeks, wat Saterdag as voorwedstryd vir die SupeRugby wedstryd tussen die Bulls en die Crusaders gespeel sal word.
Die Blou Bulle se span teen die Pumas is: Warrick Gelant, Travis Ismaiel, Marquit September, Burger Odendaal, Jamba Ulengo, Kobus Marais, Ivan van Zyl, Nardus van der Walt, Nicolaas Janse van Rensburg, Roelof Smit, Marvin Orie (kaptein), RG Snyman, Basil Short, Arno van Wyk, Du Toit Genis. Plaasvervangers: Corniel Els, Primo Ncube, Nqubeko Zulu, Jacques Engelbrecht, Kefentse Mahlo, Kurt Webster, Jade Stighling.
