Volop aksie by Klofies se netbalfees
Hoewel reën die eerste dag van die Barloworld Klofie-Netbalfees vertraag het, kon die aksie later voortgaan en die Hoërskool Waterkloof se netbalbane sal nog ’n miernes van bedrywighede bly tot Maandagmiddag.
Die agtste Barloworld Klofie-Netbalfees het Donderdag effens laat begin, toe reën die toernooi op die eerste dag vertraag het.
Puik spanwerk het dit egter moontlik gemaak om die bane vinnig droog te kry toe die reën opklaar en die wedstryde kon voortgaan. Ten spyte van die toestande is daar uitstaande netbal gesien en die organiseerders kon daarin slaag om tyd in te haal op die program, deur die oggend se wedstryde effens te verkort.
Die aksie duur steeds voort en daar sal nog tot Maandag netbal gespeel word deur die meer as 114 spanne van 37 skole wat deur sowat 1 118 netbalspelers verteenwoordig word. Die aksie begin elke dag om 08:00, behalwe vir Maandag 30 Maart, wanneer dit reeds om 07:30 begin. Vrydag sal wedstryde weer gespeel word tot 21:30, Saterdag tot 20:00 en Maandag slegs tot 15:30.
Navrae: Lizelle Marais by 083-366-7662.
