Local sportSport

Bulls klop Crusaders met vasbyt vertoning

Die Bulls het vriend en vyand verras met hul puik vertoning teen die Crusaders, ten spyte van twee groot terugslae wat hulle kort voor die wedstryd getref het.

Toe daag die Bulls Saterdagaand by Loftus Versfeld op met ’n kampioen-mentaliteit en klop die gevreesde Crusaders oortuigend met 31-19.

Na ‘n wipplank seisoen tot dusver sou min rugbykenners hierdie uitslag voorspel het. Toe dit boonop kort voor die afskop bekendraak dat die twee jong Springbokke, Jan Serfontein en Arno Botha, albei aan die Bulls span moes onttrek weens beserings, het die kanse vir ’n oorwinning nóg skraler gelyk.

Ironies genoeg was dit toe Serfontein se plaasvervanger, die onervare Burger Odendaal, wat die veld vol gespeel het en die All Black-manne in die Crusaders se agterlyn laat bontstaan het elke keer as hy aan die bal sou vat.

Odendaal het ’n hand in albei die Bulls se eerste twee drieë gehad. Hy het die tweede self gaan druk ná puik spel deur Francois Hougaard. Die res van die wedstryd het Odendaal egter die manne van Christchurch besig gehou met sy kraglopies en goeie balverspreiding, terwyl hy oor ’n paar manne laat hik het as hy onder hulle ingevlieg het op die verdediging.

Die fondament vir die Bulls se oorwinning is egter weer voorlangs gelê, waar hulle in die vaste fasette hul man gestaan het. In die los het hulle ook goed gekompeteer, wat die Kiwi’s gereeld daar laat oortree het. Skeidsregter Angus Gardner van Australië was egter baie bestendig en het die Crusaders tereg gereeld gestraf vir die kanse wat hulle vat. Dit het aan Handré Pollard die geleentheid gegee om die telbord aan die rol te hou met sy akkurate skopvoet.

Grant Hattingh se drie in die tweede helfte het die kroon gespan toe hy vir verskeie All Black agterspelers hakskene gewys het in ’n naelloop van 50 meter op pad doellyn toe.

Hierna was die Bulls ver genoeg voor om die Crusaders onder druk te hou wanneer hulle oorywerig probeer het om die lyn te breek vir meer punte. Die Bulls het in die laaste tien minute baie karakter gewys deur rotsvas te verdedig en die Crusaders kon nie eers ‘’n bonuspunt uit die wedstryd kry nie.

 

BULLS: 31. Drieë: Francois Hougaard, Burger Odendaal, Grant Hattingh. Doelskoppe: Handré Pollard (2).  Strafdoele: Handré Pollard (4).

CRUSADERS: 19. Drieë: Nemandi Nadolo. Doelskop: Dan Carter (1). Strafdoele: Dan Carter (4).

 

Spanne:

Bulls: 15. Jesse Kriel, 14. Francois Hougaard, 13. JJ Engelbrecht, 12. Burger Odendaal, 11. Bjorn Basson, 10. Handrè Pollard, 9. Rudy Paige, 8. Pierre Spies (kaptein), 7. Hanro Liebenberg, 6. Deon Stegmann, 5. Victor Matfield, 4. Jacques du Plessis, 3. Trevor Nyakane, 2. Adriaan Strauss, 1. Mornè Mellett. Plaasvervangers: 16. Jaco Visagie, 17. Dean Greyling, 18. Grant Hattingh, 19. Nico Janse van Rensburg, 20. Piet van Zyl, 21. Tian Schoeman, 22. Jurgen Visser, 23. Marcel van der Merwe.

Crusaders: 15. Israel Dagg, 14. Kieron Fonotia, 13. Ryan Crotty, 12. Tom Taylor, 11. Nemani Nadolo, 10. Dan Carter, 9. Andy Ellis, 8. Kieran Read (kaptein), 7. Richie McCaw, 6. Jordan Taufua, 5. Sam Whitelock, 4. Luke Romano, 3. Owen Franks, 2. Ben Funnell, 1. Joe Moody. Plaasvervangers: 16. Codie Taylor, 17. Wyatt Crockett, 18. Nepo Laulala, 19. Jimmy Tupou, 20. Matt Todd, 21. Mitchell Drummond, 22. Colin Slade, 23. David Havilli.

Skeidsregter: Angus Gardner (Australië)

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button