Bekende Pretorianers leer Pole rugby speel
Twee vooraanstaande rugbypersoonlikhede van Pretoria gaan binnekort by rugby in Pole betrokke raak om dié sport op semi-professionele vlak daar uit te brei.
Die kennis en ondervinding van twee bekende rugbypersoonlikhede in Pretoria het waarskynlik die deurslag gegee dat hulle nou internasionale erkenning kry.
Die nasionale rugby-unie van Pole het die sportpromoter Willem Strauss en die bekende afrigter en mentor van ander afrigters, Blikkies Groenewald, genooi om rugby in dié Oos-Europese land te bevorder.
Pole het vroeër vanjaar in Pretoria getoer en ‘n aantal wedstryde teen klubs gespeel, ter voorbereiding vir hul toetse volgende maand teen België en Ukraine.
Strauss sal die Pole help om semi-professionele strukture regoor hul land te implementeer. Hy sal hulle ook bystaan in ‘n projek om ‘n aantal hoëprofiel sewesrugby-toernooie en vertoonwedstryde aan te bied.
“Pole is baie ernstig oor hul rugby en het verlede jaar 70 000 seuns aan ‘n ‘tag’-rugbyprogram blootgestel. Daar is 54 klubs en hulle is baie ambisieus om hul ranglys op die IRB te verbeter,” het Strauss aan Rekord gesê.
Groenewald sal help met die afrigting van die nasionale span, en ook opleidingskursusse aanbied vir afrigters in Oos-Europa.
Strauss het in 2003 betrokke geraak by Rusland en met Suid-Afrikaanse afrigters soos Groenewald, James Stoffberg en Jimmy Stonehouse, bygedra om Russiese rugby dramaties te verbeter. Hulle het daarna daarin geslaag om vir die vorige Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer. Hy is ook by die promosie van rugby in talle lande in die Suidsee-eilande, Afrika en Europa betrokke, maar hy glo dat Oos-Europa ‘n potensiële rugby groeipunt is.
“Tydens die kommunistiese era is rugby gesien as ‘n Westerse sport, maar nou is dit besig om vinnig in gewildheid toe te neem. Lande soos Rusland en veral Georgië kan ‘n krag in wêreldrugby word. Die nuwe Olimpiese status wat aan Sewes-rugby toegeken is het ook die sport se profiel in hierdie lande geweldig bevorder” het Strauss vertel.
