Local sportSport

Nuwe toernooi bring top skolerugby na Pretoria

’n Nuwe skolerugby toernooi in Pretroia sal aan plaaslike skolerugby liefhebbers die kans gee om van die land se voorste skolespanne in aksie te sien.

Reg oor Suid-Afrika is liefhebbers van skolerugby jare al gewoond aan bekende toernooie wat in die paasvakansie gespeel word en waar van die land se beste skole-talent in aksie is.

Baie van Pretoria se top skole reis jaarliks landwyd om aan ander skole-toernooie deel te neem tydens hierdie vakansietyd.

Die nuwe Noord-teen-Suid Skoletoernooi, wat op 8 April en 11 April op die velde van die Hoërskool Menlopark aangebied word, sal egter aan die liefhebers van skolerugby in Pretoria ook die geleentheid gee om in hierdie vakansietyd top skoolseuns in aksie te sien.

Met die hulp van Wynie Strydom, gewese bestuurder van die Bulls, en met die bystand van verskeie borge soos Barloworld Toyota in Menlyn, gaan verskeie top skole uit die suide en sentrale deel van die land na Pretoria opruk om teen drie van dié stad se beste skole te speel in hierdie nuwe toernooi.

Terwyl Menlopark die mede-aanbieder van die toernooi sal wees, sal die Hoërskool Garsfontein en die Hoërskool Waterkloof ook albei daar wees om kragte te meet met skole soos Paarl Gimnasium, Outeniqua en ’n top skool uit Australië, wat aan die toernooi internasionale status sal gee.

Ander skole wat by die toernooi betrokke sal wees is Sutherland, Harrismith en Middelburg Hoërskool, terwyl Grey Kollege van Bloemfontein se tweedespan ook deelneem. Die feit dat verskeie van die skole se eerste- én tweedespanne in aksie sal wees is een van die unieke aspekte van die toernooi.

Die aksie begin Woensdag 8 April om 08:30 op Menlopark se velde, wanneer Harrismith en Sutherland se eerstespanne mekaar sal pak. Om 16:00 sal Menlopark en Paarl Gimnasium se eerstespanne in die hoofwedstryd speel.

Die tweede dag van die toernooi is op Saterdag 11 April, wanneer die Hoërskool Middelburg se eerstes teen Grey Kollege se tweedespan die aksie om 08:15 sal afskop. Daarna sal die eerstespanne van Waterkloof, Garsfontein en Menlopark in agtereenvolgende wedstryde teen CHS Australië, Paarl Gimnasium en Outeniqua in aksie wees.

Navrae: Wynie Strydom by 082-462-9059.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button