AfriForum gaan by Internasionale Krieketraad kla oor raskwota-debakel
AfriForum wil Krieket Suid-Afrika (KSA) by die Internasionale Krieketraad (IKR) verkla oor politieke inmenging en rassekwotas by die nasionale krieketspan, die Proteas.
Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy regspan versoek om ʼn amptelike klag teen Krieket Suid-Afrika (KSA) by die Internasionale Krieketraad (IKR) in te dien weens die rasvoorskrifte wat KSA volgens berigte gestel het vir die saamstel van die Protea-span vir sy halfeindstryd gedurende die pas afgelope Wêreldbeker-kriekettoernooi.
Haroon Lorgat, uitvoerende hoof van KSA, het volgens dié berigte kort voor die aanvang van die wedstryd opdrag gegee dat ʼn bykomende swart speler ten koste van ʼn wit speler ingesluit moet word.
Hoewel Krieket Suid-Afrika en alle belanghebbendes by die saak ontken dat dit gebeur het en die spelers wat by die span betrokke was uiteraard ook die swye opgelê is en daarom weier om met die media te praat, is hierdie scenario byna identies as ’n ander geval in 2002.
In Januarie 2002 het die dedtydse predident van KSA, Percy Sonn, ook enkele ure voor ’n toetswedstryd teen Australië opdrag gegee dat Jacques Rudolph met Justin Ontong vervang moet word, omdat hy ontevrede wat oor die gebrek aan nieblanke spelers in die span.
Sonn se optrede het destdys tot groot onmin gelei en baie bekende krieketpersoonlikhede het hulself uitgespreek teen raskwotas in dié sport.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verbied die IKR se reëls uitdruklik enige vorm van rassediskriminasie en politieke inmenging in krieket. “KSA se bereidwilligheid om meriete-spankeuses op te offer ter wille van politieke gedienstigheid aan die ANC se rasse-ideologie, is nie net tot nadeel van plaaslike krieketspelers en -ondersteuners nie, maar het ook nou afbreuk gedoen aan die Wêreldbekertoernooi, wat veronderstel is om ʼn vertoonvenster van die wêreld se beste spelers te wees,” het Kriel gesê.
Kriel het daarop gewys dat die raskwotastelsel die Proteas van twee kante af benadeel het tydens die span se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland se Swartpette. “Aan die een kant is die Proteas verhinder om hulle beste span te kies, terwyl hulle opponente, Nieu-Seeland, se wenlopies aangeteken is deur Grant Elliot, ʼn Suid-Afrikaner van geboorte wat die land verlaat het omdat die raskwotastelsel hom van geleenthede ontneem het,” het Kriel bygevoeg.
Benewens die klag teen KSA, is AfriForum se regspan ook reeds besig met omvattende voorbereidings om die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (SARU) en ander nasionale sportliggame te verkla. Volgens Kriel is die voorbereidings omvattend en tydrowend, omdat AfriForum nie slegs by internasionale sportfederasies klagtes wil indien nie, maar ook ander moontlikhede deeglik ondersoek, soos om ʼn saak by die Internasionale Hof vir Arbitrasie in Sport aanhangig te maak.
