Local sportSport

Tukkies klop hulself in Varsitybeker halfeindstryd

Tukkies se hardverskeurende nederlaag in Maandagaand se Varsitybeker halfeindstryd was ’n sameloop van omstandighede en op die keper beskou blyk dit dat dit een van dáárdie wedstryde was waar die noodlot net nie aan hulle kant was nie.

Hoewel Tukkies die oorweldigende gunsteling was om vanjaar hul derde Varsitybeker titel te verower, is hulle Maandagaand in die halfeindstryd van dié reeks uitgeskakel deur die Pukke, wat hulle met 29-28 geklop het.

Tukkies het beslis nie verloor omdat hulle nié die beste span op die veld was nie, maar eerder omdat die Pukke se bestuurspan hul teenstanders strategies uitoorlê het. Of dalk het hulle net slimmer keuses gemaak, want Pote Human en sy Tuks-bestuurspan het beslis self ’n aandeel in hul span se ondergang gehad.

Die besluit om albei hul stutte teen rustyd te vervang, was ’n reuse flater. Dit was ’n kwessie van verandering ter wille van verandering, wat ’n amateurfout in ’n uitspeelstryd is, veral as jou voorry die oorhand gehad het soos wat Tukkies dit gehad het in die eerste helfte. Justin Forward was in die eerste 40 minute byvoorbeeld verwoestend in die vaste skrums, so waarom torring aan iets wat werk en jou op die voorvoet kry?

Tukkies se gesukkel in die skrums tydens die tweede helfte het indirek gelei tot twee van die Pukke se drieë.

Die feit dat Tukkies se staatmaker losskakel en een van hul uitblinkers tot dusver vanjaar, Joshua Stander, juis in hierdie wedstryd sy swakste vertoning van die jaar moes lewer het nie veel gehelp nie. Ditto vir die feit dat verskeie ander Tukkies skielik vreemde ongedwonge en deurslaggewende foute gemaak het. Stander, wat heeljaar al ’n dodelik akkurate skopper was, het sy span 12 punte met verbroude doelskoppe gekos. Sukses met net een van dié vier verbroude doelskoppe sou genoeg gewees het vir ’n oorwinning.

Die Pukke, aan die ander kant, het byna elke kans wat hul gekry het met albei hande aangegryp. Daarby het hulle duidelik vooraf besluit dat dit ’n uitspeelstryd is en dat hulle elke moontlike punt sal vat as dit na hul kant toe kom. Daarom kon hulle ses punte tot hul totaal byvoeg deur strafdoele, wat in die Varsitybeker deur die meeste spanne grootliks geïgnoreer word.

Dan is daar natuurlik die storie van Johnny Welthagen. Dié jongman kon in sy skooldae by Affies nooit die eerstespan haal nie, maar ná een seisoen vir Pukke se o.19-span is hy in 2011 vir die Jong Bokkies gekies en skielik het sy oud-skoolmaats en -onderwysers met nuwe oë na hom gekyk.

Verlede jaar ná die Varsitybeker eindstryd was Welthagen teen die planke, toe hy man-alleen ’n hele universiteit in trane gehad het ná sy onbesonne skepdoelpoging in die doodsnikke van dié wedstryd, wat afgestorm is en tot die Ikeys se wendrie gelei het. Maandagaand was hy die held. Nadat sy naam aanvanklik onder die reserwes uitgelees is, het hy as verrassing in die beginspan opgedraf en regdeur die wedstryd ’n verskil gemaak. Maar dit was die wendrie in die doodsnikke, nadat hy die hele agterlyn van Tukkies oorhoops gevang het, wat Welthagen se naam hierdie keer in ’n positiewe lig in die geskiedenisboeke verseker het.

Rugbymanne in murg en been sal jou maklik vertel dat dié sport baie ooreenkomste het met die lewe self. Johnny Welthagen se verhaal bevestig dit, want ’n jaar gelede was hy teen die grond, maar deur harde werk en deursettingsvermoë – én ’n bestuurspan wat hom nog ’n kans gegee het – was hy Maandagaand die Pukke se held.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button