Local sportSport

Lions verras met oorwinning oor Bulls

Hoewel die Bulls Saterdagaand in Johannesburg in die doodsnikke van hul wedstryd teen die Lions geklop is, het hulle steeds genoeg gedoen om die nuwe voorlopers in die Suid-Afrikaanse SupeRugby groep te wees.

Die Bulls het Saterdagaand op Emerites Airline Park (Ellispark) in Johannesburg ’n gulde geleentheid verbrou om hulself stewig voor die ander spanne in die Suid-Afrikaanse groep van die SuperRugby reeks te vestig.

Nadat die Bulls twee minute voor die eindfluitjie in hul wedstryd teen die Lions die voortou met ’n strafdoel geneem het, het die Lions in die doodsnikke teruggeveg om met 22-18 te wen. Die plaasvervanger haker, Armand (Akker) van der Merwe het die wendrie van die heel laaste beweging in die wedstryd gedruk.

Die wedstryd was regdeur gekenmerk as ’n taai armdruk-geveg waarin die twee spanne mekaar ordentlik vasgevat het.

Hoewel albei spanne ten spyte van die reënbui, wat voor die afskop in die stadion geval het, aanvanklik probeer het om met die bal te hardloop, het die Bulls later teruggeval op hul hoogskop-en-jaag taktiek, nadat dit tydens die wedstryd weer begin reën het.

Weens die weerstoestande was dit te wagte dat die uitslag deur strafdoele bepaal sou word. Dit het ook gelyk of dit so gaan gebeur, toe Jacques-Louis Potgieter twee minte voor die eindfluitjie die Bulls se sesde strafdoel deur die pale jaag om met 18-15 voor te loop.

Vanaf die daaropvolgende afskop het die Lions egter verwoed aangeval en balbesig verkry. Daarna het hulle net een pad geken en dit was doellyn toe. Toe die skeidsregter dus die Bulls straf vir ’n oortreding by die losskrum, het die Leeus se plaasvervanger skrumskakel onmiddelik ’n tikskoppie geneem. Hy het die bal na Van der Merwe laat loop, wat deurgestorm het vir die wendrie.

Ten spyte van die nederlaag het die Bulls agterna opgeskuif na die derde plek op die SuperRugby puntelys. Dit het gebeur nadat die Sharks sleg pakslae gekry het teen die Crusaders. Die Bulls se enkele bonuspunt was genoeg om hulle op grond van hul beter punteverskil by die Sharks te laat verbygaan op die puntelys.

Die Bulls is nou die voorlopers in die Suid-Afrikaanse groep, maar as die Lions aanhou met hul kanniedood-houding en hul aanvallende spel, sal hulle binnekort sterk in die Pretorianers se nekke blaas.

 

 

Puntemakers:
Lions: 22. 
Drie: Akker van der Merwe. Doelskoppe: Elton Jantjies (1). Strafdoele: Elton Jantjies (5).
Bulls: 18. Strafdoele: Jacques-Louis Potgieter (6).

Spanne
Bulls:
15. Jesse Kriel, 14. Francois Hougaard, 13. JJ Engelbrecht, 12. Burger Odendaal, 11. Bjorn Basson, 10. Jacques-Louis Potgieter, 9. Rudy Paige, 8. Pierre Spies (kaptein), 7. Hanro Liebenberg, 6. Deon Stegmann, 5. Grant Hattingh, 4. Jacques du Plessis, 3. Trevor Nyakane, 2. Adriaan Strauss, 1. Dean Greyling.
Bank: 16. Callie Visagie, 17. Morné Mellet, 18. Nicolaas Janse van Rensburg, 19. Roelof Smit, 20. Piet van Zyl, 21. Tian Schoeman, 22. Jurgen Visser, 23. Marcel van der Merwe.

Lions:
15. Andries Coetzee, 14. Ruan Combrinck, 13. Lionel Mapoe, 12. Harold Vorster, 11. Anthony Volminck, 10. Elton Jantjies, 9. Ross Cronjé, 8. Warren Whiteley (kaptein), 7. Warwick Techlenburg, 6. Derick Minnie, 5. Franco Mostert, 4. Andries Ferreira, 3. Ruan Dreyer, 2. Robbie Coetzee, 1. Jacques van Rooyen.
Bank: 16. Armand van der Merwe, 17. Corné Fourie, 18. Julian Redelinghuys, 19. Robert Kruger, 20. Jaco Kriel, 21. Faf de Klerk, 22. Marnitz Boshoff, 23. Howard Mnisi.

Skeidsregter: Jaco van Heerden

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button