Local sportSport

Bestendigheid nou die wagwoord vir Bulls

Die Bulls se nederlaag die afgelope naweek teen hul bure in die Gauteng-derby voorspel nie noodwendig ’n ramp nie en die bonuspunt wat Pierre Spies en sy span verdien het, het hulle na die derde plek op die algehele puntelys van die toernooi laat opskuif.

Die Bulls se wisselvallige vertonings vanjaar het Saterdag in Johannesburg voortgeduur.

Hulle is in die laaste sekondes van hul wedstryd teen die Lions geklop toe die tuisspan se plaasvervanger-haker oorgeduik vir die wendrie. Die Lions se oorwinning met 22-18 was waarskynlik welverdiend om die eenvoudige rede dat hulle die Bulls wéér daaraan herinner het dat geen wedstryd gewen is voor die eindfluitjie geblaas het nie.

Die feit dat die Lions die Bulls onkant betrap het met die afskop wat tot die laaste drie gelei het, is onverskoonbaar. Dit dui ook op ’n gebrek aan konsentrasie en onvoldoende leierskap in die span. Dié afskop is tog die soort ding wat ’n mens verwag van ’n span soos die Lions, veral as hulle in daardie desperate situasie is.

Akker van der Merwe het in daardie laaste beweging drie Bulls-verdedigers geklop, wat ewe onverskoonbaar is. Behalwe vir een of twee kanse wat die Bulls nie kon afrond nie en die feit dat hulle – anders as die Lions – verkies het om in die nat weer eerder veilig te speel en terug te val op hul hoogskop-en-jaag taktiek, kan daar nie ernstige kritiek op die Bulls se spel wees nie. Hulle was goed genoeg in die vaste fasette en het glad nie sleg gevaar het by die afbreekpunte teen die Leeus se puik lostrio nie.

Daar moet ook in gedagte gehou word dat die Bulls ontwrig was weens die onttrekkings van sleutelspelers soos Handré Pollard, Victor Matfield en Jan Serfontein. Hierdie nederlaag egter nie ’n treinramp vir die Bulls nie — hoewel daar doemprofete is wat òf die span slegsê òf die afrigter verdoem, soos na elke wedstryd wat die Bulls verloor.

Benewens daardie laaste twee minute van die wedstryd, het die span onder omstandighede goed gevaar teen ’n honger trop Leeus wat beslis vanjaar nóg ’n paar groot spanne in Johannesburg gaan klop. Wat die Bulls nou nodig het, is bestendigheid. Dié span speel een week soos ’n kampioenspan, net om die volgende week weer ’n insinking te toon. Hulle het reeds vier oorwinnings behaal in sewe wedstryde en daar bly vir hulle dus nege ligabepalings oor.

As die Bulls ses van hul laaste nege bepalings kan wen, behoort hulle onder die ses topspanne te eindig as die finale puntestand van die afgelope twee seisoene se SupeRugby-toernooie as riglyn geneem word. Een of twee oorwinnings meer behoort hulle met gemak die Suid-Afrikaanse groep te laat wen en dus ’n plek tussen die topdrie te verseker. As die Bulls bestendig kan word en hul topspelpeil, soos verlede week teen die Crusaders, kan handhaaf, behoort ses of sewe oorwinning uit hul laaste nege wedstryde nie onmoontlik te wees nie.

Dan moet die positiewe punt nog bygevoed word dat die span binnekort versterk sal word met die terugkeer van Flip van der Merwe en Arno Botha, terwyl Pollard, Matfield en Serfontein ook terug behoort te wees vir die stryd teen die Reds of ten minste vir die wedstryd in Durban teen die Sharks op 18 April. Daar is nog baie rugby om gespeel te word in vanjaar se SupeRugby-reeks en Pierre Spies (wat terloops teen die Lions sy beste wedstryd in drie seisoene gehad het) en sy manne is nog lank nie uit die wedloop om die laaste SupeRugby-kampioene in die huidige formaat van die reeks te word nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button