Bloubul vroue wen historiese sewesrugby toernooi
Die Blou Bulle se vroue sewesrugby span was onlangs deel van ’n geskiedkundige nuwe toernooi wat in Lindley in die Vrystaat aangebied is.
Die meeste Suid-Afrikaners sal waarskynlik nie die dorp Lindley op ’n kaart kan aanwys nie, maar in terme van die land se rugby-erfenis is dit ’n baie belangrike plek.
Dr. Danie Craven, waarskynlik die land se grootste rugby-gees ooit, is op dié dorpie gebore. Craven het later vir die Vrystaat, Noord-Transvaal, die WP en die Springbokke rugby gespeel en ná sy speeldae het hy een van die mees gerekende administrateurs geword wat die spel ooit opgelewer het.
’n Groep inwoners van Lindley in die Vrystaat het onlangs ’n inisiatief begin om dié dorp as deel van ’n toerismeroete te bemark. Hulle het besluit om die dorp se rugbyveld en -klubgebou, waar Craven die sport leer speel het, op te knap en te restoureer om uiteindelik ’n ordentlike rugbytoernooi daar te kan aanbied.
Daar is besluit op ’n sewesrugby toernooi vir vroue en een van die eerste spanne wat uitgenooi is, is die gedugte span van die Blou Bulle, wat deur die bekende Riaan van der Merwe afgerig word.
Die toernooi is die “Lindley Craven Vroue 7’s uitnodigingstoernooi” genoem en dit is aan die einde van Maart met groot sukses aangebied.
Die Blou Bulle se vrouespan het as die wenners van die toernooi uit die stryd getree, nadat hulle die Cheetahs met 21-7 in die finaal geklop het.
Die meeste spanne was dit eens dat hulle graag jaarliks na dié besondere dorp sou wou terugkeer vir die toernooi.
