Local sportSport

Centurion egpaar durf wêreld se moeilikste veldwedloop aan

’n Dapper egpaar van Centurion pak vroeg in April vanjaar die Marathon des Sables in die Sahara woestyn in die suide van Marokko aan en hulle glo dat hulle dié woestyd-wedloop, bekend as “The toughest footrace on earth”, saam gaan voltooi.

Padwedlope is waarskynlik vandag die grootste sportsoort in Suid-Afrika in terme van die hoeveelheid aktiewe deelnemers wat elke naweek vir wedlope aantree.

Dit is egter nie algemeen bekend dat daar ook ’n alternatief is op padwedlope vir diegene wat nie graag in die strate wil oefen en deelneem nie. Veldwedlope (trail running) raak wêreldwyd by die dag gewilder. In dié sportsoort hardloop deelnemers letterlik oor enige terrein, wat grasvlaktes, bosse, sand of bergagtige terrein kan insluit.

Deelnemers oefen op enige ruwe terrein, maar daar is verskeie amptelike wedlope op uitmergelende roetes waaraan atlete kan deelneem. In Suid-Afrika alleen bestaan wedlope soos die Kalahari Augrabies Extreme Marathon (245km in ses dae), die Visrivier Marathon (42km), die Namaqua Stage Race (110km-120km in vier dae) en die Addo Olifant Park Trail Run (76km). Dié soort marathons bied aan deelnemers ’n unieke ervaring, waarin hulle met rugsakke op die rug hardkloop en 24uur lank aan die elemente blootgestel word. Daar word gewoonlik in tente oornag en deelnemers moet hul kos en water op ’n rugsak saamdra.

Een van die wêreld se grootste en mees uitdagende veldwedlope is die Marathon des Sables. Dié wedloop, wat ’n sewedag-avontuur deur die Sahara woestyd in die suide van Marokko is, staan onder deelnemers bekend as “The toughest footrace on earth”. Die organiseerders sorg dat daar jaarliks net ’n sekere hoeveelheid deelnemers in die wedloop toegelaat word, wat beteken dat daar soms ’n waglys van tot twee jaar is vir voornemende deelnemers. Vanjaar se wedloop het op 3 April begin en ’n dapper egpaar van Centurion was onder die deelnemers wat aangetree het daarvoor.

Genis Pieterse van Rooihuiskraal het vyf jaar gelede aan veldwedlope begin deelneem en in 2013 het hy reeds sy eerste Marathon des Sables voltooi. Sy vrou, Tanya, het die sport drie jaar na hom begin beoefen en vanjaar kon sy daarin slaag om saam met hom gekeur te word vir dié uitmergelende wedloop.

Volgens Genis bestaan die terrein van die wedloop hoofsaaklik uit droeë rivierbeddings, duine en bergagtige gebiede. Deelnemers moet vanaf die eerste dag al hul kos, ekstra klere en noodhulpmiddels in ’n rugsak saamdra. Juis daarom oefen hulle ook heeljaar met ’n rugsak op die rug. Water word by die oornagpunte uitgedeel en elke deelnemer kry net ’n beperkte kwota, maar as dit oordeelkundig gebruik word is dit genoeg om te verhoed dat die deelnemer ontwater.

Daar is sewe skofte tydens die wedlloop, waarvan die langste – ’n skof van sowat 91km – op dag vier aangepak word. Dag vyf is dan ’n rusdag. Die deelnemers hardloop atlesaam sowat 251km oor dié tydperk van sewe dae en oornag in ruskampe wat deur die organiseerders verskaf word.

Die Pieterses glo hulle is fisiek goed voorbereid, maar ’n ervare deelnemer soos Genis glo dat sielkundige taaiheid die belangrikste deel van ’n deelnemer se aanslag uitmaak. Tog is daar baie deelnemers wat dit nie maak nie. Behalwe vir uitputting is spierbeserings is blase op die voete en ontwatering die grootste oorsaak van die onttrekking van deelnemers.

Toe hulle ’n dag voor hul vertrek na noord-Afrika met Rekord gesels het, was Genis en Tanya egter vol hoop en vertroue dat hulle hierdie reuse avontuur saam suksesvol gaan voltooi. Hulle het baie goed voorberei en hul beplanning is baie deeglik gedoen. As hulle daarin kan slaag om saam die wedloop te voltooi sal hulle sover bekend die eerste egpaar uit Suid-Afrika wees wat dié besondere prestasie behaal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button