Groot rugbygees van Pretoria oorlede
Die man wat in 1993 die afrigter van Korrektiewe Dienste se rugbyspan was toe hulle vir die eerste keer ooit die Carltonbeker kon wen, het die afgelope week sy stryd teen motorneuron-siekte (MNS) verloor.
Een van die legendes van klubrugby in Pretoria, brig. Deon Boardman, is vroeër vandeesweek oorlede.
Boardman het al geruime tyd ’n stryd gevoer teen motorneuron–siekte (MNS), dieselfde siekte waaraan die gewese Springbok skrumskakel, Joost van der Westhuizen ook ly. Hy was 62 jaar oud.
Hy word veral in die geledere van die Depratement Korrektiewe Dienste onthou as ’n rugbylegende. Korrektiewe Dienste se rugbyklub in Pretoria het hul beste prestasie ooit onder sy leiding as afrigter behaal, toe hulle in 1993 vir die eerste keer in hul geskiedenis die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker liga kon wen. Die klub het hierdie prestasie in 2001 herhaal, maar teen daardie tyd het klubrugby in Pretoria reeds erg agteruitgegaan. Boardman en sy span se prestasie in 1993 is behaal toe rugby nog ’n amateurspel was en provinsiale spelers ook nog klubrugby moes speel.
Nadat hy vir baie jare self as speler vir die destydse Gevangenisdiens, die Noord-Transvaalse B-span en die voormalige Oos-Transvaal (deesdae die Valke) uitgeblink het, het Boardman hom tot afrigting gewend. Hy was intussen ook ’n puik krieketspeler.
Boardman was een van die gewildste afrigters ooit by die Korrektiewe Dienste rugbyklub, wat ook in die vroeër jare by hul teenstanders as “Die Groen Dood” bekendgestaan het. Die span het hierdie bynaam verwerf weens hul klipharde speelstyl, asook die wyse waarop hulle as deel van hul wedstrydplan teenstanders bang kon speel met hul hoogskop-en-storm taktiek.
In die vroeë 1990’s het Boardman ook die Blou Bulle se B-span afgerig en in dieselfde era was hy vir ’n tyd lank die sameroeper van die senior keurkomitee op Loftus Versfeld.
Nadat hy die Depratement Korrektiewe Dienste verlaat het, het hy hom vir jare op sy nuwe loopbaan by ’n bekende IT-maatskappy toegespits, voordat hy in 2012 weer deur die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) nadergetrek is om hulle Varsitybeker rugbyspan af te rig. Weens sy verswakte gesondheid het Boardman se terugkeer na rugby in die nuwe professionele era net enkele seisoene geduur, maar sy kennis van die spel en sy vermoëns as taktikus het groot indruk gemaak op die spelers en bestuurslede wat met hom by TUT saamgewerk het.
’n Gedenkdiens vir Boardman word op Dinsdag 9 Junie om 11:00 by die Die Lewende Woord Kerk in Brummeria gehou.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
