Top drie breek weg op Carltonbeker puntelys
Met Centurion se groot oorwinning oor Oostelikes het ’n duidelike kloof ontstaan op die Carltonbeker puntelys tussen die top drie spanne en die onderste vier.
Centurion se groot oorwinning oor Oostelikes het die afgelope naweek bevestig dat twee duidelike groepe besig is om te vorm op die puntelys in dié toernooi.
Met dié oorwinning het Centurion homself saam met Tukkies en Polisie onderskei as die boonste groep, wat waarskynlik sake sal uitspook om vanjaar se kampioen te bepaal.
Die onderste groep, wat Oostelikes, Harlequins, TUT en Naka Bulle insluit, sal waarskynlik in die tweede rondte in ’n taai stryd gewikkel wees om die vierde kandidaat te wees in die halfeindrondte van die reeks.
* Centurion het sewe drieë ingeryg in hul laaste wedstryd in die eerste rondte van vanjaar se toernooi teen Oostelikes. Hul opwindende jong losskakel, Jean Grobler, het boonop al sewe die drieë verdoel. Daarenteen het Oostelikes ’n enkele drie gedruk, wat die eindtelling op 49-5 te staan gebring het.
Hoewel Oostelikes steeds vierde op die puntelys is aan die einde van die eerste rondte, sal hulle baie beter moet doen in die res van die seisoen as hulle ernstige kandidate vir die halfeindrondte wil bly.
Grobler is nou die voorste puntemaker in die reeks. Op 85 punte is hy tans 23 punte voor Dillon Laubscher van Polisie.
* Een van die spanne wat al hoe sterker na vore tree om Oostelikes opdraande te gee vir daardie vierde plek op die puntelys is Harlequins. Dié klub speel weekliks goeie rugby en met hul oorwinning van 35-23 oor TUT het hulle die afgelope naweek weer volpunte in die liga verdien.
Die manne in die Blokkiestruie se losskakel, Paul Walters, is ook besig om sterk na vore te tree en sy giftige skopskoen het Saterdag die verskil gemaak vir sy span. Albei spanne het vier drieë gedruk, maar Walters kon die telbord beter aan die rol hou met sy skopvoet as sy teenstander van TUT, Phillip Snyman.
* In die alternatiewe reeks, waar die drie top spanne in die Carltonbekerreeks almal teen Rustenburg Impala speel, het Tukkies die afgelope naweek vir manne van Noordwes met 36-22 geklop. Impala het waarskynlik hul eie krag oorskat toe hulle vroeër aansoek gedoen het om teen die Carltonbekerklubs te speel. Hulle het reeds vroeër teen Centurion verloor en die afgelope Saterdag het Tukkies skoonskip gemaak deur al vyf die wedstryde teen hulle te wen. Tukkies se tweedes en derdes het albei vyftigtalle teen Impala behaal, terwyl hul twee junior spanne ook redelik maklik gewen het.
* Eerskomende Saterdag speel TUT tuis teen hul mede studente, Tukkies. Centurion speel gasheer vir Naka Bulle, terwyl Oostelikes ’n loslootjie geniet. Polisie speel in die ander reeks teen Rustenburg Impala.
