Horn volg in manlike kollegas se spore met naelloop rekord
Plaaslike naellopers is besig om die Europese seisoen van 2015 in ’n geskiedkundige era vir Suid-Afrikaanse atletiek te verander.
Dit lyk of die afrigters van naellopers by Tukkies en die High Performance Centre (hpc) die afgelope jaar ’n baie besliste wenresep ontdek het.
Naellopers uit dié geledere is besig om Europa soos ’n onverwagte donderstorm te tref en die atletiekwêreld sit beslis regop oor die vertonings van plaaslike blitse.
Eers was dit Akani Simbine wat die tweede Suid-Afrikaanse man ooit geword het om die 100m in minder as 10 sekondes af te blits. Toe kom Henricho Bruintjies na vore met ’n uwe Suid-Afrikaanse rekord van 9,97sekondes en skielik het dít wat so baie Suid-Afrikaanse naellopers dekades lank nie kon regkry nie, allerdaags begin lyk.
Die ink van Bruintjies se nuwe rekord was nog nie behoorlik droog op die rekordboeke nie, toe herhaal Simbine dié prestasie en nou staan daardie 9.97 sekondes agter twee Pretorianers se name.
Die afgelope naweek het Carina Horn haar naam by dié van haar twee manlike kollegas gevoeg deur die legendariese Evette de Klerk se 25-jaar oue nasionale 100m rekord vir vroue (11,06) in Madrid in Sppanje te ewenaar.
Horn se vertonings bedreig al die hele seisoen lank De Klerk se rekord, maar sy kon dit elke keer net-net nie maak nie. Sy het vanjaar reeds verskeie keer binne een tiende van ’n sekonde van dié tyd gekom, maar De Klerk se rekord het telkens oorleef.
Die feit dat Horn tot dusver vanjaar in die Europese seisoen konstant vinniger as 11,20sekondes in die 100m kon hardloop het gewys dat sy die vermoë het om Suid-Afrika se volgende naelloop koningin te word. Sy het kort voor haar spogvertoning in Madrid gesê sy glo dat die Suid-Afrikaanse rekord binne haar bereik is, omdat sy telkens gesukkel het met haar wegspring, wat haar tye beïnvloed het.
Toe sy Saterdag in Spanje ’n puik wegspring gehad het, was die Suid-Afrikaanse rekord dus ’n formaliteit. Sy het dié prestasie in een van die uitdunne van die byeenkoms in Madrid behaal. Kort daarna het sy in die eindrondte van dié byeenkoms derde geëindig met ’n tyd van 11,10, wat ook ’n verbetering op haar vorige beste tyd is.
Die wentyd in dié eindwedloop was 10,90 deur Elaine Thompson van Jamaika. Met die apie van die Suid-Afrikaanse rekord wat nou van Horn se rug af is, kan sy dalk vanjaar nog in haar manlike kollegas se voetspore volg deur die magiese 11 sekondes merk – wat vir vroue-atlete gelyksoortig is aan die 10 sekondes grens vir mans – te breek. Hopelik doen sy dit sommer volgende maand al by die wêreldkampioenskappe in China.
