Venter wil voor sy eie mense veg
Real Steel Promosies se Fight Night at Presleys op Woensdag 29 Julie sal ’n geskiedkundige dag vir boks in Suid-Afrika wees, aangesien dit die eerste professionele toernooi ooit is waar vyf swaargewig gevegte op een aand te sien sal wees.
Pretoria se wêreldkampioen bokser, Danie Venter, het nog ’n paar doelwitte in sy boksloopbaan voor hy finaal sy handskoene sal ophang.
Een van Venter se lewenslange doelwitte is om die Suid-Afrikaanse swaargewig titel te wen. Hy het nog net een keer in sy loopbaan om dié titel geveg. Dit was in 2003, toe Venter as 24-jarige jong bokser in ’n geveg met ’n omstrede uitslag teen Anton Nel, wat op daardie stadium reeds ’n gesoute professionele bokser met tien jaar ervaring in die beroepskryt was, verloor het.
Die uitslag van daardie geveg in 2003 is ná 12 rondtes met punte beslis en die beoordelaars het nie saamgestem oor dit wat in die kryt gebeur het nie. Dit was ’n nie-eenparige beslissing in Nel se guns nadat twee beoordelaars hom naelsraaps met ’n enkele punt laat wen het, terwyl die derde beoordelaar Venter gemaklik met vier punte laat wen het.
In 2010 het Venter en Nel ironies genoeg in dieselfde jaar hul terugkeer tot die kryt gemaak ná voortydige uittredes. Nel het weer as swaargewig geboks, terwyl Venter na ’n paar gevegte as swaargewig oorgegaan het na die junior swaargewig afdeling, waar hy in 2013 as die Wêreldboksfederasie (WBF) se wêreldkampioen gekroon is.
Die 47-jarige Nel het intussen in 2013 weer die Suid-Afrikaanse swaargewig titel gewen, nadat hy Hein van Bosch met ’n tegniese uitklophou in ’n geveg om die vakante titel gewen het.
Venter (36) se ander doelwit wat hy wil bereik voor sy uittrede is om sy WBF titel ten minste een keer suksesvol te verdedig. Dít wil hy bittergraag voor sy eie mense in Pretoria doen. Hy is nie ’n ywerige toeris nie en dis algemeen bekend dat hy eerder voor sy eie mense wil boks.
Pretorianers kry natuurlk die kans om Venter op 29 Junie in aksie te sien, wanneer hy as swaargewig in die kryt klim in die hoofgeveg van Real Steel Promosies se Fight Night at Presleys toernooi.
Dié toernooi sal in meer as een opsig ’n merkwaardige geleentheid in Suid-Afrikaanse boksgeskiedenis wees. Vir die eerste keer ooit sal tien swaargewig boksers op een aand by dieselfde profesionele toernooi in aksie wees. Venter sal in die hoofgeveg in aksie wees teen Unathi Jacobs, gewese swaargewig kampioen van die Oos-Kaap.
Boksliefhebbers sien ook uit na die gewese skopboks wêreldkampioen, Johan Westerveld, se eerste professionjele geveg as bokser. Dan is almal nuuskierig om die jong reus, Ruann Visser (2,07m en 127kg) in aksie te sien. In Amerika word hy reeds as die volgende swaargewig sensasie van wêreldboks beskou. Die gewese IBO jeugkampioen, Flo Simba, sal in die voorlaaste geveg in aksie wees.
Behalwe vir hierdie oormaat van swaargewig aksie, sal daar nog vyf ander opwindende gevegte plaasvind. Een van Pretoria se mees belowende jong boksers, Sbusiso Zingange, boks in die junior liggewig afdeling teen Vusimuzi Manyoni en dié geveg sal beslis weer vuurwerke oplewer.
Hansie Carr, wat ook ’n tyd lank uit die kryt was maar by Real Steel Promosies se vorige toernooi bewys het dat hy nog niks van sy vaardighede verloor het nie, kry in die junior middelgewig afdeling weer ’n kans teen William Bankisi.
Die aksie op 29 Julie sal om 07:00 begin. Kaartjies vir die toernooi verkoop tans soos soetkoek en boksliefhebbers wat die aksie nog wil sien sal gou moet speel. Navrae: Charles Backhouse by 083-382-3539.
