Polisie, Tuks in mini-eindstryd
Die twee ou aartsvyande in die Carltonbeker liga, Polisie en Tukkies, speel eerskomende Donderdag in die laaste ligawedstryd van die seisoen nie net om die eerste plek op die puntelys nie, maar oor om te sien wie vir die “makliker” halfeindstryd sal kwalifiseer deur Centurion in die halfeindrondte te vermy.
teen TUT beteken dat die Carltonbeker liga vanjaar ’n eindstryd in die kleine sal beleef in die laaste rondte, wat eerskomende Donderdag afgehandel word.
Dié twee reuse van plaaslike klubrugby speel dan nie net vir die eer om heel bo aan die puntelys te eindig nie, maar die wenner sal beslis ook ’n makliker pad na die eindstryd hê. Die wenner sal in die halfeindrondte teen Naka Bulle of Harlequins te staan kom, terwyl die verloorder met die omgekrapte span van Centurion te doen sal kry.
* Polisie se oorwinning van 77-12 oor TUT sal slegte nuus wees vir Naka Bulle, wat hoop dat die studente van Pretoria-Wes nog genoeg petrol in hul tenk oor sal hê om Donderdag met Harlequins af te reken. As TUT dít regkry sal Naka Bulle, wat tans drie punte voor die Blokkiesrtuie op die puntelys is, ’n kans hê om deur te dring na die halfeindstryd.
TUT se vertoning teen Polisie was egter onoortuigend en die kommer oor dié gewese spogklub, wat ’n dekade gelede nog een van die groot kragte in die Carltonbeker liga was, duur voort. Ter wille van rugby kan ’n mens net hoop dat TUT se sake op die kampus reggeruk word en dat die universiteit se leierskap sal help om sport by dié universiteit weer tot voordeel van hul beeld na buite aan te wend.
* Tukkies het beslis nie met hul beste span teen Oostelikes opgedraf nie, maar hulle het steeds daarin geslaag om vyf drieë te druk en die manne in rooi met 33-11 te klop. Oostelikes kon net een drie druk en die feit dat hulle geen ligapunte kon insamel nie, het hulle ook effektief uitgeskakel uit die wedloop om ’n plek in die halfeindrondte.
Oostelikes het nou hul verpligtinge voltooi en hulle is steeds een punt agter Naka Bulle. Soos genoem kan Harlequins egter nog in die vierde plek inskuif as hulle Donderdag met TUT afreken.
* In die junior ligas is die halfeindrondtes die afgelope naweek afgehandel. Vir die eeste keer in baie jare kon Tukkies nie vir die eindstryd in die o.20 liga kwalifiseer nie, nadat hulle vir die derde keer vanjaar deur Naka Bulle (29-0) geklop is in die halfeindrondte. Polisie het in die ander halfeindrondte met Harlequins afgereken (51-13) en die eindstryd sal dus tussen die Bobbies en Naka Bulle gespeel word.
In die o.21 liga het die twee universiteite vir die eindstryd gekwalifiseer, nadat Tukkies vir Centurion met 85-0 en TUT vir Polisie met 59-14 pakslae gegee het. Hierdie uitslag bring waarskynlik hoop vir TUT se toekoms, want dit bewys dat daar tog jong talent in hul geledere is.
