Honderde stoeiers sorg vir top aksie
Die jaarlikse Johnny Reitz Big-5 stoeitoernooi is die afgelope naweek in Menlopark aangebied.
Die hoofkwartier vanNoord-Gauteng stoei in Menlopark was die afgelope naweek ’n miernes van bedrywighede toe die Johnny Reitz Big-5 toernooi vir die eerste keer in dié lokaal aangebied is.
Die stoeisaal het uit sy nate gebars, aangesien honderde stoeiers en hul ondersteuners vanoor die hele land vir die toernooi opgedaag het.
Die toernooi het oudergewoonte weer internasionale status gekry toe drie spanne van oorsee ook stoeiers ingeskryf het. Daar was ’n span uit die VSA, ’n span uit Mauritius en ook ’n span van die Reunion eilande.
Die organiseerders moes raakvat om deur die vol program te kom, maar plaaslike skeidsregters en beoordelaars het hul staal gewys om die toernooi suksesvol te laat verloop. Die organiseerders van hierdie gewilde toernooi deel jaarliks medaljes aan wenners uit met die afbeelding van een van die Groot Vyf diersoorte in Suid-Afrika daarop afgedruk. Juis daarom staan die toernooi bekend as die Johnny Reitz Big-5 stoeitoernooi.
Vanjaar het die Olifant aan die beurt gekom en medaljewenners kon later spog met hul baie mooi Olifant-medaljes.
Die toernooi het stoeiers vanaf die ouderdom o.8 tot by senior stoeiers geakkommodeer.
