Uitklophoue én teleurstellings by groot bokstoernooi
Daar was opwindende gevegte met ’n paar klassieke uitklophoue te sien by verlede week se groot bokstoernooi in Pretoria-Oos, maar dié toernooi het ook ’n teleurstelling of twee opgelewer.
Die vuiste het geklap en uitklophoue is geplant, maar daar was oor ’n paar teleurstellende vertonings by Real Steel Promosies se Battle of the Giants-bokstoernooi, wat verlede week by Presleys in die ooste van Pretoria aangebied is.
Dié toernooi het waarskynlik ’n nuwe boksrekord in Pretoria opgestel weens die vyf swaargewig gevegte wat op een aand in dieselfde kryt aangebied is.
Sleg twee van die swaargewig gevegte het met ’n punte-beslissing geëindig, wat beteken dat daar in die ander drie swaargewig gevegte òf uitklophoue geplant is, òf dat die geveg met ’n tegniese uitklophou beëindig is.
In die eerste swaargewig geveg van die aand het twee groentjies teen mekaar te staan gekom. Pretoria se Johan Westerveld, ’n gewese wêreldkampioen in skopboks, het sy teenstander, Matthew Hopkins van Kwazulu-Natal, in die eerste rondte met ’n skitternede regterhaakhou platgeslaan. Hopkins het egter baie durf getoon deur op te staan en dié geveg te voltooi, terwyl hy selfs sterker begin boks het teen die einde. Westerveld het egter maklik met punte gewen. Hy het na die geveg aan Rekord gesê hy het elke oomblik geniet en dat hy tuis voel in die bokskryt. Hy het ook groot lof gehad vir sy afrigter, Charles Backhouse.
Die Kapenaar, Herman Potgieter, lyk ook na ’n belowende bokser in die swaargewig afdeling. Potgieter slaan baie hard en hy het skaars twee minute nodig gehad om die meer ervare Ginger Singo van Venda tot oorgawe te dwing.
Die groot teleurstelling van die aand was die swaargewig geveg tussen Ruann Visser en George Tshimanga. Daar is vooraf deur die Visser-kamp lofwoorde gespreek oor dié jong reus (2,07m en 130kg). Hy is selfs in sommige kringe as die volgende bokssensasie van die wêreld beskryf. Visser het sy loopbaan in Amerika begin met vyf uitklophoue in vier gevegte, maar daar kan na dese weer ernstige vrae gevra word oor die standaard van boks in dié land.
Visser het verlede week gelyk soos ’n man wat die eerste keer in sy lewe in die kryt klim. Dit het werklik gelyk of hy nog nooit enige afrigting gehad het nie. Hy het sy gewigsvoordeel van 32kg gebruik om Tshimanga rond te stamp en soms het dit gelyk of hy sy teenstander letterlik uit die kryt wou gooi. Tussendeur het Tshimanga ’n paar houe op Visser se kakebeen en lyf geplant wat aan hom genoeg punte gegee het om uiteindelik die geveg te wen en Visser se onoorwonne rekord te beëindig.
Dis seker goed vir boks dat oud rugbyspelers soos Visser tot die kryt toetree, maar dan moet afrigters en promotors werklik ook hul deel doen om die kaf van die koring te skei. As ’n man nie kán boks nie, hoort hy nie in die professionele kryt nie.
In die vierde swaargewig geveg van verlede week se toernooi het Khayeni Hlungwane waarskynlik die voormalige ster-bokser, Flo Simba, se boksloopbaan finaal beëindig. Simba is vir die vierde keer in ses gevegte in die eerste rondte uitgeslaan en dit hoogs waarskynlik dat Harold Volbrecht hom na dese sal aanraai om ’n ander loopbaan te vind.
Danie Venter se geveg teen Vusumzi Mlindwa was ook ’n effense teleurstelling. Venter moes aanvanklik teen die voormalige Oos-Kaapse kampioen, Unathi Jacobs, veg. Laasgenoemde het slegs ’n week voor die geveg onttrek en Mlindwa moes op kort kennisgewing vir hom instaan. Venter was net te sterk vir sy teenstander, wat in sy negenede professionele geveg betrokke was. Pretoria se wêreldkampioen het Mlindwa in die tweede rondte tot oorgawe gedwing en met ’n tegniese uitklophou gewen.
Nog een van Charles Backhouse se opkomende sterre, Sbusiso Zingange, het weer vir die meeste opwinding van die toernooi gesorg in sy junior liggewig geveg teen Bright Mufiri. Zingange is ’n baie aktiewe bokser wat vinnig besig is om ’n gunsteling by boksliefhebbers te word. Hy het sy onoorwonne rekord behou deur met punte te wen.
Die opwindende Hansie Carr het ook sy onoorwonne rekord in die senior weltergewig afdeling behou met nog ’n indrukwekkende vertoning teen William Bankski. Carr het sedert sy terugkeer na die kryt, ná 12 onaktiewe jare, nou reeds drie teenstanders in die eerste rondte gestuit. Hy is in puik vorm en dit sal niemand verbaas as hy binnekort ’n kans op die internasionale verhoog of selfs in ’n wêreldtitel geveg kry nie. Hy lyk beslis reg daarvoor.
