Carltonbeker halfeindstryde deur hofaksie bedreig
Die Blou Bulle se Carltonbeker klubkompetisie is in ’n krisis gedompel nadat een van die klubs in dié liga, Naka Bulle, ’n dringende hofinterdik aangevra het om eerskomende naweek se halfeindrondtes te stuit.
Daar bestaan ’n goeie kans dat eerskomende naweek se halfeindrondte wedstryde van die Blou Bulle se Carltonbeker klubkompetisie deur ’n dringende hof-inderdik gestuit sal word.
Na een van die beste Carltonbeker seisoene in baie jare op die veld, kan daar dus hier teen die einde van die seisoen weer figuurlik gesproke bloed loop in die raadsale van Loftus, oor ’n enkele insident wat ongelukkig uiteindelik deurslaggewende gevolge op die puntelys van die toernooi gehad het.
Naka Bulle, die Carltonbeker klub in die Moot-area, het verelde Vrydag ’n dringende aansoek voor die hof gebring om die Blou Bulle te verbied om voort te gaan met die aanbieding van vanjaar se halfeindrondte wedstryde, tensy dié klub as vierde kandiddaat ingesluit word en dus eerskomende Saterdag in die een halfeindrondte in die plek van Harlequins teen Tukkies kan speel.
Volgens die amptelike finale puntelys het Harlequins in die vierde plek geëindig, nadat hulle die afgelope Donderdag in hul laaste ligawedstryd volpunte op die puntelys verdien het vir hul oorwinning van 35-17 teen TUT. Met hierdie oorwinning het Harlequins vierde op die puntelys geëindig met 23 ligapunte.
Naka Bulle het volgens die amptelike puntelys in die vyfde plek geëindig met 21 ligapunte.
Die twispunt het egter ontstaan na aanleiding van ’n tegniese probleem wat terugdateer na die wedstryd tussen Harlequins en Naka Bulle op 16 Mei vanjaar. Tot op daardie stadium het Naka Bulle al vier hul eerste wedstryde verloor. Met die hulp van een van hul borge is daar egter voorsiening gemaak om ’n paar ekstra spelers te werf om die span te versterk. Só is, onder andere, spelers soos Fanie Raseroka (voorheen TUT) en Anton Beswick (voorheen Tukkies) vir dié klub gewerf en hulle het albei hul eerste wedstryde vir Naka Bulle op Saterdag 16 Mei teen Harlequins gespeel. Tot op daardie stadium was nie een van hierdie twee spelers vanjaar betrokke by ’n klub nie, aangesien hulle in die eerste deel van die seisoen vir die Limpopo Blou Bulle in die Vodacombeker toernooi uitgedraf het.
Die Blou Bulle het vanjaar ’n nuwe stelsel geïmplimenteer waarvolgens spelers by ’n klub met ’n aanlyn-rekenaarprogram geregistreer word. Volgens Naka Bulle se beamptes is die korrekte prosedure gevolg om hierdie twee spelers te registreer, maar in beide se geval is die foto’s van hulle nie deur die stelsel verwerk nie. Naka Bulle beweer egter dat hulle alles reg gedoen het en dat hierdie probleem ontstaan het weens ’n tegniese probleem op die Blou Bulle Rugby-unie se stelsel. Die spelers is dus by name geregistreer, maar hul foto’s het ontbreek.
Naka Bulle het op 16 Mei die Carltonbeker wedstryd teen Harlequins met 17-10 gewen, nadat hulle twee drieë teen die Blokkiestruie se een gedruk het. Beswick het as hul skopper opgetree en hy het 7 van Naka Bulle se punte aangeteken.
Toe Harlequins uitvind van die tegniese probleem tydens die spelers se registrasieproses, het hulle amptelik beswaar aangeteken. Hierna het die unie se kompetisie komitee, onder voorsitterskap van die nuwe adjunk-voorsitter, Henry Adendorff, die uitslag van die wedstryd gekanseleer. Hierna is die uitslag as ’n oorwinning van 40-0 aan Harlequins toegeken, wat ’n bonuspunt vir vier drieë insluit. Harlequins het dus vyf ligapunte gekry wat hulle nooit op die veld verdien het nie, terwyl Naka Bulle vier liga punte verloor het.
As hierdie drastiese stap nie geneem is nie, sou Harlequins dus uiteindelik sesde op die puntelys geëindig het, terwy Naka Bulle gerieflik in die vierdie plek sou wees. Selfs as die uitslag bloot gekanselleer is en geen span enige ligapunte ontvang het nie, sou die manne van die Moot steeds vir die halfeindrondte gekwalifiseer het.
Ongelukkig het dinge so uitgewerk dat Naka Bulle hul saak in die hof wil besleg. Volgens woordvoerders van die klub is dit meer as net ’n beginselsaak. Volgens hulle het die klub korrek opgetree en is deur tegniese probleme benadeel. As hulle nie die halfeindrondte haal nie, verloor hulle boonop sowat ’n kwartmiljoen rand wat as bonus van een van hul borge beloof is.
Dr. Eugene Hare, hoof uitvoerende beampte van die Blou Bulle Maatskappy, wou nie met Rekord oor die saak praat nie. Adendorff het aan Rekord gesê die bestuur staan by hulle beslissing oor die saak en hulle is oortuig dat die kompetisiereëls korrek geïnterpreteer en toegepas is. Hy het bevestig dat die Blou Bulle die saak in die hof sal teenstaan.
Die dringende aansoek is geskeduleer om op Donderdag 13 Augustus deur die hooggeregshof in Pretoria aangehoor te word. As die hof Naka Bulle se inderdik toestaan, sal die Carltonbeker halfeindstryde nie eerskomende Saterdag kan voortgaan nie, tensy daar ’n ooreenkoms tussen die partye bereik kan word.
Volgens Naka Bulle se klubbesturder, Buks Burger, oefen hulle steeds en is gereed om Saterdag teen Tukkies te speel as dié scenario dalk realiseer.
