Beeldskone Dayna hou daarvan om deur modder en stof te jaag
Die beeldskone Dayna Nienaber is ewe tuis op haar motorfiets in veldrenne regoor Suid-Afrika as op die loopplank of voor die lens van ’n fotograaf.
Dayna Nienaber het grootgeword in ’n huis waarin ’n liefde vir motorfietse altyd teenwoordig was en niemand sou verbaas wees om te hoor dat sy self aan wedrenne wou deelneem toe sy eers leer ry het nie. Wat baie mense wel verbaas het, is dié aanvallige blondekop se ongekende sukses in ’n wêreld waar selfs harde en taai manne soms sukkel.
Nienaber se pa, Anton, was ’n kranige deelnemer aan veldrenne op sy motorfiets en sy is dus van baie jongs af daaraan blootgestel. Haar ma, Sonja, is ook ’n motorfietsentoesias en het soms die veldpadjies aangedurf op haar eie 230cc Honda.
In 2011 was Dayna nog in graad 9 aan die Hoërskool Garsfontein toe sy op kort kennisgewing besluit om daardie jaar op haar ma se motorfiets aan die Desert Run wedren deel te neem. Dié wedren, wat ’n roete deur die Kalahari tot in Namibië volg, vereis besondere uithouvermoë van die deelnemers. Daar word daagliks tot 300km in woestynagtige omstandighede afgelê. Sonder enige spesifieke voorbereiding het Dayna die wedren van ver oor die 1000km voltooi. Waar baie ander deelnemers se lus vir motorfietsry oor ruwe terrein soms uitgeblus word met dié wedren, het die gogga daardie week vir Dyana Nienaber behoorlik gebyt.
Vir haar volgende verjaardag kry sy toe ’n 250cc Yamaha persent en daarna was daar geen keer aan dié jong dame se avontuurlus nie. Vir die volgende twee jaar moes haar ouers soms ingryp om darem te sorg dat die skoolwerk nie agterweë gelaat word nie. Sy kry dus in die tydperk nie so veel kans soos wat sy graag sou wou om die stofpaaie in amptelike kompetisies aan te vat nie.
Verelde jaar kry dié oud-leerling van Hoërskool Garsfontein haar groot kans toe vriende haar nooi om as deel van die Bert Smith All Stars racing team deel te neem aan haar eerste amptelike wedren in die nasionale klampioenskapsliga. Sy word voorberei deur die ervare renjaers dat sy die wedren by Rysmierbult in die Noordwes provinsie waarskynlik nie sal voltooi nie, maar dat sy goeie ervaring kan opdoen. Wéér verbaas sy almal deur dié 180km wedren op paaie van grond, klip, sand, rivierbeddings en deur die veld in die vierde plek klaar te maak in die damesklas. Haar algehele plek was 68ste uit 239 deelnemers. Die merkwaardige hiervan is dat sy tydens die wedren geval het en dat sy dit met ’n ernstige skouerbesering voltooi het.
Daarna het sy vir ongeveer vier maande deel geword van die Automation Procucts span. Eers in streeksrenne en later ook in nasionale wedrenne regoor Suid-Afrika.

In April vanjaar het die bekende en gevestigde Bert Smith All Stars racing team haar teruggelok en sy het in die meeste wedrenne in die nasionale liga onder hulle vaandel gery, hoewel sy steeds met haar eie 250cc Yamaha motorfiets oor die weg moet kom. Ten spyte van die feit dat haar fiets nie tegnologies op die selfde gevorderde standaard as baie van die ander dames se motorfietse is nie, het Nienamer steeds die besondere prestasie behaal om na elke wedren (ongeveer 14) waaraan sy vanjaar deelgeneem het ’n podium-posisie los te ry.
Nog ’n aspek wat Nienaber se prestasies op die motorfiets merkwaardig maak is die feit dat sy gereeld deur haar teenstanders onderskat word, omdat sy glad nie die voorkoms van ’n rowwe vrou het, soos wat dikwels met vrouens in dié sport die geval is nie. Hieroor lag sy net verleë en haar ma vertel dat dit gereeld gebeur dat manlike ryers na ’n wedren na haar toe kom om haar geluk te wens met haar perstasie. As sy dan haar valhelm afhaal val hul monde gewoonlik oop van verbasing om te sien sy is ’n vrou en boonop modelmooi.
Nienaber is inderdaad nie sommer enige vaal meisie op ’n motorfiets nie. Op hierdie stadium vul sy haar inkomste aan deur professionele modelwerk en sy is amptelik lid van ’n modelagentskap. Sy lag weer as sy vertel dat haar besondere lengte van 1,8 meter nie net ’n voordeel in die modelwêreld is nie, maar ook op die motorfiets.
Sy droom egter groter oor haar loopbaan op die motorfiets as oor haar loopbaan op die loopplank of voor die kamera, hoewel sy beslis op albei terreine ernstig opgeneem wil word. Behalwe vir haar doelwit om plaaslik ’n kampioen te word op die motorfiets, droom sy ook van deelname aan wêreldbekende enduro wedrenne soos die beroemde Erzerg wedren in Oostenryk en die Romaniacs wedren in Spanje. Hierdie twee wedrenne verteenwoordig gewoonlik die uiterste toets vir die uithouvermoë en vaardigheid van ryers.
Onthou dus gerus die naam Dayna Nienaber. Hierdie beeldskone blondekop is duidelik ’n meisie wat nie maklik opgee as sy eers vir haarself doelwitte gestel het nie. Daarom is daar geen rede waarom sy nie as model én as renjaer internasionale sukses kan behaal nie.
