Junior gestremede atleet kry erkenning
Verskeie plaaslike gestremde atlete is onlangs vereer vir hul prestasies deur die Gauteng-Noord Sportvereeniging vir Gestremdes.
Die 13-jarige Ntando Mahlangu, ’n junior T42 (amputasie, bo-knieg) atleet, is onlangs vereer met verskeie toekennings deur Gauteng-Noord Sportvereeniging vir Gestremdes.
Hierdie toekennings was welverdiende erkenning aan Mahlangu se verskeie atletiek prestasies die afgelope jaar. Hy is ’n lid van die Is Ability Sport klub.
Mahlangu het vroeer die jaar opslae gemaak toe hy twee “nie-amptelike” junior wêreldrekords (100m en 200m), en ’n Afrika rekord in verspring opgestel het by die nasionale kampioenskappe vir gestremdes.
Dit is opgevolg met ’n nie-amptelike senior wêreldrekord in die 400m by International Wheelchair and Amputee Sport (IWAS) se junior wêreldspele in Nederland, waar hy ook die toekenning as atleet met internasionale potensiaal ontvang het.
Gauteng-Noord se Sportvereeniging vir Gestremdes het Mahlangu aangewys as dié provinsie se junior sportman van die jaar, terwyl hy ook die toekenning vir ‘Beste vordering’ ontvanghet.
“Dit was ‘n goeie jaar vir Is Ability Sport in terme van sport ontwikkeling. Ons lede het hierdie jaar gesamentlik meer as 50 medaljes gewen en verskeie Suid-Afrikaanse-, Afrika-, asook wêreldrekords opgestel,” het dié klub se bestuurder, Fred Furstenberg, gesê.
Ander lede van die klub wat ook toekennings ontvang het, was Emile Burgers (uitstekende prestasie), Fred Furstenberg (uitstekende prestasie), asook Brandon Menezes, Marco Menezes, Charlene Potgieter, Neil Potgieter (familie trofee) en Brenda Martens (sertifikaat van erkenning).
Is Ability Sport is in 2011 gestig deur Johan Snyders, die uitvoerende hoof van Icexpress Progressive Prosthetics en stigter van die Jumping Kids Prostetiese Fonds, met die doel om para-sport vir fisies gestremde atlete te bevorder.
Icexpress is sedert 2009 betrokke by paralimpiese sport op die hoogste vlak en werk tans saam met verskeie van die land se top gestremde atlete en afrigters ter voorbereiding vir die 2015 IPC (International Paralympic Committee) wêreldkampioenskappe en die 2016 Rio Paralimpiese Spele.
Icexpress, in samewerking met Is Ability Sport en Jumping Kids, bied hardloop klinieke aan vir die doeleiende van rehabilitasie. Kinders word veral aangemoedig om deel te neem om ’n omgewing van gesonde span-gees en aktiwiteit te bevorder.
