Blou Bulle kán WP weer klop
As die Blou Bulle eerskomende Vrydag hul drie ooglopende swakplekke kan regstel, behoort hulle vanjaar vir die eerste keer in ses seisoene weer in die Curriebeker finaal te speel.
Die Blou Bulle speel eerskomende Vrydagaand om 19:10 teen die WP in die eerste halfeindstryd van vanjaar se Curriebeker reeks.
Dit sal die eerste Curriebeker halfeindstryd wees wat die Blou Bulle aanbied sedert 2008.
Hierdie situasie is moontlik gemaak toe die Blou Bulle verlede Vrydagaand in moeilike omstandighede te midde van die hoë humaniteit in die Laeveld daarin kon slaag om die Pumas met 25-24 te klop.
Hoewel Lappies Labuschagne en sy manne net ’n gewone oorwinning oor die Pumas nodig gehad het om vir die tuis halfeindstryd te kwalifiseer, het hulle ook daarin geslaag om vier keer die doellyn te haal vir ’n welverdiende bonuspunt.
Dit was egter nie die Blou Bulle se beste vertoning van die jaar nie en hulle sal hul spelkurwe deeglik moet lig as hulle eerskomende naweek die WP wil klop om vir die eerste keer sedert 2009 weer in ’n Curriebeker eindstryd te speel.
Die WP het met hul groot oorwinning oor die OP Kings gewys dat hulle nie onderskat moet word nie en dat hul groot nederlaag van twee weke gelede teen die Goue Leeus nie as maatstaf geneem moet word om hulle te beoordeel nie.
Daar is geen twyfel dat die Kapenaars die Blou Bulle Vrydagaand eerstens in die vaste skrums sal teiken nie. Nollis Marais se span het tot dusver vanjaar gesukkel in die skrums en hulle word ook deur skeidsregetrs as “gewoontemisdadigers” in hierdie aspek van die spel gebrandmerk. Daar sal dus baie harde werk gedoen moet word om in die skrums te oorleef. Die Bulle het die afgelope weke egter beduidend verbeter in hierdie aspek en dis nie onmoontlik om dié probleem te oorkom nie.
Die ander groot leemte in die Blou Bulle se spel vanjaar was die feit dat hulle soms op kritieke tye fokus verloor het op verdediging. Teen ’n span soos die WP sal dit fataal wees. William Small-Smith, waarskynlik die mees onderskatte rugbyspeler in Suid-Afrika, het Vrydagaand teen die Pumas weer sy waarde as verdediger en organiseerder van verdediging gewys toe hy teen die Pumas as plaasvervanger opgestuur is. Dit sal Marais en sy bestuur baat om te oorweeg om Small-Smith in die beginspan te kies teen die WP, terwyl die plofbare Dries Swanepoel dan later as plaasvervanger opgestuur kan word om skade aan te rig.
Laastens skuld die Blou Bulle hul ondersteuenrs nog ’n vertoning waarin hulle in albei helftes met dieselfde intensiteit speel. Tot dusver hierdie seisoen is hulle gereeld in die eerste helfte aan die slaap gevang en moes in die tweede helfte dan inhaal-rugby speel. As dié probleem ook ondervang kan word, is daar geen rede waarom Labuschagne-hulle nie vanjaar in die eindstryd van die Curriebekerreeks kan speel nie.
