Middelmatige WP klop swak Blou Bulle in Curriebeker halfeindstryd
Die WP speel eerskomende naweek in die Curriebeker eindstryd, nadat hy die Blou Bulle Vrydagaand in die halfeindstryd op Loftus Versfeld geklop het.
Die Blou Bulle het hul ondersteuners Vrydagaand bitter teleurgestel met ’n baie swak vertoning in die Curriebeker halfeindstryd, waarin hulle met 23-18 deur die WP op Loftus Versfeld geklop is.
Hoewel die WP nie juis die wêreld aan die brand gespeel het nie, kon hulle tog daarin slaag om byna al die belangrike aspekte van die wedstryd te oorheers. Dít het hulle in staat gestel om twee drieë te druk, terwyl die tuisspan slegs via die skopskoen van Tian Schoeman punte kon aanteken.
Die eerste helfte was ’n baie gelykop stryd en nie een van die twee spanne kon deurbreek nie. Albei se verdediging was goed, maar die WP sal, met die oog op eerskomende Saterdag se eindstryd, bekommerd wees dat hulle nie meer punte kon aanteken nie.
Die WP het die skrums, lynstane en afbreekpunte oorheers en in die eerste helfte reeds by verre die meeste balbesit gehad. Tog was die halftydtelling 9-elk, na strafdoele deur Schoeman en Robert du Preez.
In die tweede helfte het die Kapenaars se oorheersig van die afbreekpunte aan hulle die kans gebied om die Bulle te verhoed om momentum op te bou. Daarby het twee puik stukkies spel deur Cheslin Kolbe die besoekers in staat gestel om twee drieë te druk.
Die WP speel nou eerskomende Saterdag in die eindstryd teen die wenner van die ander halfeindstryd, wat Saterdag op Ellispark in Johannesburg tussen die Leeus en die Cheetahs beslis word.
PUNTEMAKERS:
BLOU BULLE: 18. Strafdoele: Tian Schoeman
WP: 23: Drieë: Cheslin Kolbe, Jano Vermaak. Doelskoppe: Robert du Preez (1), Kurt Coleman (1). Strafdoele: Robert du Preez (3)
Geelkaart: Pierre Schoeman (Blou Bulle, hoogvat)
Spanne:
Blou Bulle: 15 Warrick Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 Dries Swanepoel, 12 Burger Odendaal, 11 Jamba Ulengo, 10 Tian Schoeman, 9 Francois Hougaard, 8 Arno Botha, 7 Pieter Labuschagne (kaptein), 6 Deon Stegmann, 5 Marvin Orie, 4 Jacques du Plessis, 3 Marcel van der Merwe, 2 Bandise Maku, 1 Pierre Schoeman.
Plaasvervangers: 16 Corniel Els, 17 Werner Kruger, 18 Rudolph Snyman, 19 Jason Jenkins, 20 Ivan van Zyl, 21 Louis Fouché, 22 William Small-Smith.
WP: 15 Cheslin Kolbe, 14 Dillyn Leyds, 13 Johnny Kotze, 12 Juan de Jongh (kaptein), 11 Seabelo Senatla, 10 Robert du Preez, 9 Nic Groom, 8 Nizaam Carr, 7 Sikhumbuzo Notshe, 6 Rynhardt Elstadt, 5 Ruan Botha, 4 Jean Kleyn, 3 Wilco Louw, 2 Bongi Mbonambi, 1 Steven Kitshoff.
Plaasvervangers: 16 Michael Willemse, 17 Oliver Kebble, 18 Chris van Zyl, 19 Jurie van Vuuren, 20 Jano Vermaak, 21 Kurt Coleman, 22 Huw Jones.
Skeidsregter: Lesego Legoete
Assistent skeidsregters: Stuart Berry, Quinton Immelman
TV skeidsregter: Christie du Preez
