Regte besluite nou nodig vir Bulle se toekoms
Na die Blou Bulle se teleurstellende vertoning in die Curriebeker halfeindstryd, is nugter denke en ’n paar drastiese veranderings nodig om in die toekoms op koers te bly.
Die Blou Bulle het hul ondersteuners Vrydagaand bitter teleurgestel met ’n baie swak vertoning in die Curriebeker halfeindstryd, waarin hulle met 23-18 deur die WP op Loftus Versfeld geklop is.
Hoewel die WP nie juis die wêreld aan die brand gespeel het nie, kon hulle tog daarin slaag om byna al die belangrike aspekte van die wedstryd te oorheers. Dít het hulle in staat gestel om twee drieë te druk, terwyl die tuisspan slegs via die skopskoen van Tian Schoeman punte kon aanteken.
Die WP het die skrums, lynstane en afbreekpunte oorheers en in die eerste helfte reeds by verre die meeste balbesit gehad. Tog was die halftydtelling 9-elk, na strafdoele deur Schoeman en Robert du Preez.
In die tweede helfte het die Kapenaars se oorheersig van die afbreekpunte aan hulle die kans gebied om die Bulle te verhoed om momentum op te bou. Daarby het twee puik stukkies spel deur Cheslin Kolbe die besoekers in staat gestel om twee drieë te druk.
Die vraag op almal se lippe is nou of die regte strukture en personeel wel op Loftus Versfeld gevestig is om die Bulle van hieraf vorentoe te neem. Kan die Bulls werklik oor vier maande op die kern van hierdie Curriebekerspan reken om die “nuwe” SuperRugby reeks tegemoed te gaan?
Nollis Marais was Vrydagaand na die Curriebeker halfeindstryd ’n baie teleurgestelde man, hoewel hy dit nie openlik wou wys nie. Hy behoort ook ’n bekommerde man te wees, want spelers wat twee maande gelede aan die begin van die Curriebeker toernooi oral as die “nuwe helde van Loftus” opgehemel is, lyk skielik nie meer na die oplossing vir die toekoms nie.
Volgens Marais het hy reeds ’n paar aspekte geïdentifiseer waarop hy in die voorseisoen voorbereiding wil konsentreer om van die Bulls ’n meer kompeterende span te maak.
Feit bly staan dat, selfs met al die moderde tendense wat by rugby betrek is, die vaste fasette van die spel en ’n span se vermoeë om by die afbreekpunte te kompeteer steeds van die deurslaggewende aspekte bly. Dit kan ook reguit gesê word dat die Bulle en die Blou Bulle tans duidelik nié die personeel het om veral in die vaste fasette te kompeteer nie. Voor Marais enigiets anders doen moet hy ’n vaste vyf vind wat kán skrum en ’n skrumafrigter wat dié manne kan brei om weer hul teenstanders te oorheers.
As Marais dít kan regkry, is sy taak halfpad afgehandel. Dan kan hy begin werk aan die jong, onervare manne om die res van die span te bou.
Gelukkig het die Bulls vir Handré Pollard wat terugkeer as losskakel. Marais sal dringend vir hom ’n goeie adjudant moet vind, want die twee manne wat dié belangrike posisie in die Curriebekerreeks gedek het, is albei geweeg en te lig bevind.
