Local sportSport

Bakkies Botha gesels oor sy loopbaan by rugby-ontbyt

Gaste by die jaarlikse rugby-ontbyt van Hoërskool Garsfontein het verlede week aan die rugbylegende, Bakkies Botha, se lippe gehang toe hy oor sy lewe en sy loopbaan gesels het.

Die naamBakkies Botha is in Suid-Afrika byna net so bekend soos enige top handelsnaam en dié rugbylegende word selfs soms met die filmster Chuck Norris vergelyk in die bekende “supermens”-grappies.

Sowat 1000 gaste by die Hoërskool Garsfontein se jaarlikse rugby-ontbyt was egter verlede week aangenaam verras oor dié groot man se menslikheid, sterk waardes en nederigheid toe hy as eregas by hierdie spoggeleentheid opgetree het.

Hoewel Botha nie die tradisionele rol van gasspreker vervul het nie, het die gaste tog aan sy lippe gehang toe hy as hoogtepunt van die ontbyt saam met die bekende rugbykommentator, John van Rensburg, aan ’n vraag-en-antwoord sessie deelgeneem het.

Botha het die gehoor sommer vroeg verbaas toe hy sy weersin uitgespreek het teenoor ouers wat te veel druk op hul kinders plaas om in sport te presteer. Hy het tot groot vermaak van sy gehoor sy eie lewensverhaal opgesom as dié van ’n doodgewone voorstedelike seun wat nie té vroeg gedruk is om groot drome te droom nie. Botha het vertel dat hy en sy jonger broer, soos baie Suid-Afrikaanse seuns, baie kompeterend teenoor mekaar was. Hyself het egter nooit groot drome van rugbyglorie gehad nie. In sy voorlaaste jaar op skool het hy aanvanklik nog vir die tweede- en derdespan van HTS Middelburg gespeel en eers toe sy ouers na Vereeniging verhuis het, het Botha begin uitstaan en die eerstespan gehaal. Botha het vertel dat hy toé eers besef het dat hy werklik genoeg talent het om iets in rugby te bereik, nadat die Valke destyds aan hom ’n professionele kontrak aanbied het.

Hoewel Botha nie veel uitgebrei het oor die eerste deel van sy loopbaan nie, het hy wel gemaklik gesels oor sy tyd in Frankryk. Hier het hy sy gehoor weer gefassineer met sy eerlike en opregte gesprek oor sy liefde vir sy gesin en sy verantwoordelikheid as eggenoot en pa. Hy het onthul dat, anders as die algemene persepsie dit wil hê, sy gesin nie saam met hom na Frankryk verhuis het ná die wêreldbekertoernooi van 2011 nie. Hy was dus vir vier jaar alleen in die vreemde.

Botha het vertel hoe hy die verlange na Suid-Afrika hanteer het deur so veel as moontlik saam met die Suid-Afrikaners te braai. Hy het ook die storie bevestig dat hy, saam met die Bloemfonteiner Juan Smith, soms tot 40kg boerewors per week gemaak het en dat die Franse en Aussies wat saam met hulle vir Toulon in die suide van Frankryk gespeel het, later self versot geraak het op dié Suid-Afrikaanse vleisproduk.

Oor die stigma as ’n “omstrede” speler wou Botha nie veel sê nie. Al wat hy hieroor gesê het is dat hy nou weet dat hy hom beter moes beteuel het teenoor teenstanders wat hom uitgelok het. “Ongelukkig kan ek onreg nie verdra nie en daar was altyd een of ander onreg wat aanleiding gegee het tot my optrede, soos die kopstamp-voorval met Jimmy Cowan. Hy het my aan die trui terugghou sodat ek nie kon verdedig nie…”, het Botha verduidelik.

Botha het die gehoor ook verbaas deur openlik oor rugbyspelers se geldsake te praat. Hy het onthul dat hy die afgelope tyd aanbiedings ontvang het om nog ’n seisoen of twee aan te hou speel. “Dan dink ’n mens by jouself… ‘hoeveel is genoeg?’ Jy kan teruggaan en nog R7-miljoen of R8-miljoen verdien, maar op die ou einde is jou gesin se belange ook daar. Geld is nie alles nie en ek het besluit om op te hou om nou so veel as moontlik tyd met my gesin deur te bring”, het Botha op ’n ernstige noot gesê.

Hy het teenoor die gaste op die ontbyt ook sy liefde vir Suid-Afrika uitgespreek. “Ek was al oral in die wêreld. Rugby het my in staat gestel om wyd te reis, maar glo my vandag, daar is nié nog ’n land soos ons land nie”, het Botha op ’n patriotiese noot afgesluit.

 

 

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button