Local sportSport

Proteas kan verlore aansien herwin na goeie eerste dag

Suid-Afrika kan Saterdagoggend voort gaan kolf in Centurion met die wete dat hulle reeds meer as 300 lopies op die telbord het én dat twee manne in goeie vorm hul kolfbeurte sal voortsit.

Suid-Afrika is goed op koers om verlore eer te herwin in die vierde en laaste kriekettoets teen Engeland in die huidige reeks tussen dié twee lande.

Die Proteas was aan die einde van die eerste dag se spel in ’n stewige posisie op 329/5, nadat Stephen Cook (115) en Hasim Amla (109) ’n baie goeie fondament gelê het met ’n vennootskap van 202 lopies om die tweede paaltjie.

AB de Villiers het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Toe Dean Elgar sy paaltjie in die elfde boulbeurt verloor, het Amla hom by Cook aangesluit en dié veteraan het vir die grootste deel van die dag saam met Cook, wat op 32-jarige ouderdom in sy eerste toets speel, gekolf.

Cook het gewys dat dit dalk ’n fout was om hom vir so lank oor die hoof te sien vir nasionale diens, nadat hy die afgelope dekade al ’n staatmaker in die Highveld Lions se span is.

Rondom teetyd het die gang van die wedstryd verander en waar Suid-Afrika tot op daardie stadium in beheer van sake was, het Engeland toegeslaan met vier paaltjies in die laaste sessie van die dag. Amla het eerste sy paaltjie verloor toe hy skoongeboul is deur Ben Stokes. Twee boulbeurte later het AB de Villiers sy tweede nulletjie in twee kolfbeurte in die reeks gekry. Hy is gevang deur Joe Root vanaf die boulwerk van Stuart Broad.

Cook kon daarna nog nege boulbeurte vasbyt voor hy onder groot toejuiging kon terugstap nadat hy ook skoongeboul is deur Chis Woakes. Hy kon egter tevrede wees met sy geskiedkundige beurt, waarmee hy die oudste Suid-Afrikaner geword het om in sy eerste toetsbeurt ’n honderdtal aan te teken.

JP Duminy het nooit gemaklik gelyk in sy eerste toets na sy lang afwesigheid weens ’n besering nie. Hy kon net 16 lopies aanteken voor hy been-voor-paaltjies betrap is deur Moeen Ali.

Die skaal het eers weer in Suid-Afrika se guns begin swaai toe Themba Bavuma (32) en Quinton de Kock (25) teen die einde van die dag bymekaargekom het. Hul netjiese vennootskap van 56 onoorwonne lopies sal Saterdagoggend voortgesit word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button