De Kock lei Proteas se stertkolwers met puik beurt
Hoewel die paaltjies met reëlmaat geval het in die eerste sessie van dag twee in die vierde toets tussen Suid-Afrika en Engeland, kon die Proteas Saterdagoggend op SuperSport Park daarin slaag om die telbord aan die rol te hou om reeds ’n redelike telling op die telbord te kry vir hul boulers om te verdedig.
Suid-Afrika was teen etenstyd van die vierde kriekettoets teen Engeland op SuperSport in Centurion in ’n stewige posisie met hul telling op 421/8.
Dit beteken dat die Proteas 92 lopies in dié sessie bygevoeg het by hul oornagtelling van 329/5.
De Kock (25) en Bavuma (32) het teen laatoggend kom voortkolf en dit was gou duidelik dat hulle die opdrag gehad het om die pas te versnel.
Ongelukkig kon Bavuma net 3 lopies voeg by sy oornagtelling voor hy uitgehaal is vir 35. Daarna het die paaltjies met reëlmaat geval, maar gelukkig vir Suid-Afrika kon De Kock (86) vasbyt om die telbord aan die rol te hou. Hy het ook vir Radaba (0) en Abbott (16) oorleef, voordat Dane Piedt (11) by hom aangesluit het.
Dié twee kolwers het Suid-Afrika se telling teen etenstyd tot by 423/8 geneem en teen daardie tyd het hulle reeds ’n stewige vennootskap van 37 lopies opgebou.
