Local sportSport

De Kock se 129, vroeë Engelse paaltjie versterk Proteas se posisie

Suid-Afrika was teen teetyd op die tweede dag van hul kriekettoets teen Engeland in Centurion in ’n baie sterk posisie, ná ’n stewige telling in hul eerste beurt en ’n vroeë deurbraak teen die Engelse kolflys.

Quinton de Kock het Saterdag op SuperSport Park in Centurion weer gewys dat hy een van die talentvolste jong krieketspelers op die internasionale arena is toe hy Suid-Afrika gehelp het om ’n baie goeie eerste beurt telling van 475 op te stel met sy bydrae van 129.

De Kock het die Proteas se beurt saam met Temba Bavuma voortgesit toe spel die oggend teen 10:30 begin het en hy het regdeur die Suid-Afrikaanse beurt gekolf. Hoewel hy amptelik drie keer deur die Engelse veldwerkers misgevang is, het De Kock soos ’n ervare kolwer voor die paaltjies baljaar en hy was nie bang om die lopies te jaag nie.

Die jong paaltjiewagter van die Proteas was deur die verloop van die oggend se spel by twee stewige vennootskappe betrokke, waarin hy telkens die senior vennoot was. Eers het hy en Kyle Abbott (16) ’n netjiese vennootskap van 50 lopies aangeteken, waarna De Kock en Dane Piedt (19) bymekaargekom het om 82 lopies om die negende paaltjie aan te teken.

Die geduld en konsentrasie van Dane Piedt (114 minute en 104 balle vir sy 19 lopies), asook Abbott (46 minute en 33 balle vir sy 16 lopies) kan nie onderskat word nie. Hul waardevolle bydrae het aan De Kock die geleentheid gegee om die lopies te jaag, wat later in die toets nog baie vir die Proteas kan beteken.

Suid-Afrika se beurt was teen 14:30 verby toe Morkel (0) been-voor-paaltjie betrap is deur Ben Stokes. Spel is sowat ’n kwartier later hervat, wat beteken het dat Suid-Afrika nog ongeveer ’n driekwart-uur na die Engelse kon boul voordat teetyd die laatmiddagsessie sou inlui.

Die Proteas was boonop gelukkig om hul eerste deurbraak voor teetyd te maak, toe Kagiso Radaba die belangrike paaltjie van Alex Hales (15) kon neem. Dane Piedt het die vangwerk gedoen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button