Nog twee paaltjies vir Proteas in verkorte tweede sessie
Ten spyte van ’n onderbreking in spel weens reën kon die Proteas Sondagmiddag in die tweede sessie van die derde dag in hul vierde kriekettoets teen Engeland hul gunstige posisie verstewig.
Suid-Afrika was teen teetyd op dag drie stewig in beheer van die vierde kriekettoets teen Engeland (318/8) op SuperSport Park in Centurion.
Nadat die Proteas die eerste sessie van die dag oorheers het deur die hart uit Engeland se kolforde te ruk, het AB de Villiers en sy manne hul greep vroeg in die tweede sessie verstewig toe Kagiso Rabada sy sesde paaltjie van die beurt laat kantel het. Dit het beteken dat die Engelse aangewese was op hul stertkant om die opvolgbeurt te probeer afweer.
Ben Stokes was Rabada se sesde ongelukkige slagoffer toe hy deur Hasim Amla in die glippe uitgevang is.
Voordat die Proteas hierdie paaltjie kon laat val was daar egter ’n oponthoud van meer as ’n uur in die spel, toe reën oor Centurion begin uitsak het. Doemprofete het aanvanklik geglo dat die reën langer kan aanhou en selfs spel vir die res van die dag sou belemmer, maar dit het gelukkig vir die geduldige toeskouers gou opgeklaar.
Nadat Stokes vertrek het, was die Engelse aangewese op die kolfwerk van Moeen Ali en Chris Woakes. Laasgenoemde is kort voor teetyd uitgehaal toe Dean Elgar hom gevang het van die boulwerk van JP Duminy.
Ali kon daarna saam met Stuart Broad vasbyt tot teetyd en die Engelse (318/8) sal hoop dat die twee manne in die laaste sessie van die dag die verskil tussen die twee spanne op die telbord (157) drasties kan laat krimp.
