Proteas sluit derde dag af met gerieflike voorsprong
Suid-Afrika sal Maandag met ’n voorsprong van 175 lopies en nege paaltjies staande kom voortkolf in hul tweede beurt in die vierde toets teen Engeland op SuperSport Park in Centurion.
Hy is net twintig jaar oud, maar Kagiso Rabada het homself al by verskeie geleenthede in die krieket-rekordboeke ingeboul.
Die derde dag van die vierde kriekettoets tussen Suid-Afrika en Engeland op SuperSport Park in Centurion was geen uitsondering nie. Rabada se vyf paaltjies op dié dag het sy totaal in Engeland se eerste beurt (342) op sewe te staan gebring.
Daarmee het Rababa byna eiehandig die Engelse kolforde vernietig en bygedra daartoe dat Suid-Afrika in die laaste sessie van die dag hul tweede beurt kon begin met ’n voorsprong van 133 lopies.
Rabada het reeds op skool (St Stithians College in Sandton) die oog gevang, maar hy het krieketkenners die eerste keer werklik laat regop sit toe hy by die o.19 wêreldbekertoernooi van die 2013/14 seisoen die tweede meeste paaltjies geneem het. Suid-Afrika het daardie toernooi boonop gewen.
Verlede jaar het Rabada kort na sy 20ste verjaardag slegs die tweede Suid-Afrikaner ooit geword om ’n driekuns te behaal in sy eerste internasionale eendag wedstryd. Dit was teen Bangladesh.
In die tweede toets tussen Suid-Afrika en Engeland, wat verlede week op die Wanderers in Johannesburg gespeel is, het Rabada dit vir die eerste keer reggekry om vyf paalties (5/78) in een beurt te neem. Nou het hy daarop verbeter met sy 7/112.
Hoewel die moontlikheid van reën regdeur die dag ’n bedreiging ingehou het op die derde dag, het daar uiteindelik slegs sowat ’n uur se spel in die tweede sessie verlore gegaan toe spel gestaak moes word weens reën.
Die dag het aan die Suid-Afrikaanse boulers behoort. Toe Alastair Cook en Joe Root teen laatoggend uitgestap het om die Engelse beurt voor te sit nadat hulle op dag twee met ’n telling van 137/2 uitgeskei het, was dit duidelik dat hulle die Protea boulers gaan uitdaag en die lopies gaan jaag.
Morné Morkel (2/73 in 23,2 boulbeurte) het eerste toegeslaan deur Cook uit te haal vir 76. Daarna was dit die kombinasie van Rabada en De Kock wat verwoesting gesaai het. De Kock het drie van Rabada se slagoffers uitgevang, terwyl Amla, Cook en Piedt (Saterdag) die ander vangwerk gedoen het. Die sewende paaltjie was ’n been-voor-paaltjie poging waarmee Rabada vir Nick Compton Saterdag uitgehaal het. JP Duminy was die Proteas se ander suksesvolle bouler. Hy het van Chris Woakes ontslae geraak.
Suid-Afrika se tweede beurt het rampspoedig begin toe Dean Elgar in die derde boulbeurt vir slegs een lopie uitgehaal is. Die bouler was James Anderson en Jonathan Bairstow het die vangwerk gedoen.
Daarna het Hasim Amla (16) egter by Stephen Cook (23) aangesluit en die twee het tot aan die einde van die dag gekolf. Suid-Afrika sal op dag vier (Maandag) kom voortkolf met hul telling op 42/1.
