Polisie, Centurion, behaal goeie oorwinnings in Carltonbekerreeks
Die uitslae van die naweek se Carltonbeker rugby het weer bewys dat dié reeks vanjaar waarskynlik tussen vier top spanne beslis sal word.
Polisie rugbyklub het die afgelope naweek hul tweede oorwinning van die seisoen oor hul aartsvyand, Tukkies, behaal toe hulle die studente met 20-3 geklop het in die Carltonbekerreeks.
Die Bobbies het Tukkies ook vroeër vanjaar in die eindstryd van die Assupol Klubreeks verslaan. Saterdag het Polisie van die begin af oorheers in ’n wedstryd wat nie veel opwinding opgelewer het nie. Die Bobbies kon daarin slaag om twee keer te gaan druk, terwyl Tukkies met ’n enkele strafdoel tevrede moes wees.
* Centurion het weer gewys dat hulle vanjaar ernstige aanspraakmakers op die titel gaan wees toe hulle die stewige span van Naka Bulle met 25-22 gewen het.
Die manne van die Moot kan egter ongelukkig voel dat hulle vir die tweede week agtereenvolgens só naby aan ’n oorwinning kon kom sonder om die knoop deur te haak. Hulle het verlede week teen Tukkies ook met net drie punte verloor.
Om alles te kroon het Centurion swaar gesteun op die skopskoen van hul losskakel, Gaybrin Smith, wat 20 punte aangeteken het met ’n doelskop en ses strafdoele. Daarenteen het die manne van die Moot vier drieë gedruk.
* Die nuwelinge, Dragons, het pakslae gekry in Rustenburg teen Impala, waar die tuisspan met 43-30 gewen het. Die feit dat Dragons wel 30 punte teen ’n top span soos Impala kon behaal, sal hul ondersteuenrs laat moed skep. Dié span kan nog baie verbeter en soos sake tans lyk het hulle gekom om te bly in die Carltonebeker toernooi.
* Eerskomende naweek speel sommige van die spanne al Donderdag in hul kragmetings van die naweek, as gevolg van die langnaweek. Dragons sal deeglik getoets word teen Polisie, terwyl Harlequins die taak sal hê om Centurion se opmars te probeer stuit. Naka Bulle speel tuis teen Impala, terwyl Tukkies ’n loslootjie geniet.
