Drie skok-uitslae in een naweek in Carltonbeker toernooi
Daar het die afgelope naweek drie Carltonbeker wedstryde plaasgevind en aldrie het verrassings opgelewer ten opsigte van die uitslae.
Hoewel daar aan die begin van die jaar veranderings aan die Carltonliga plaasgevind het wat sommige waarnemers bekommerd gemaak het oor klubrugby, staan een punt soos ’n paal bo water na die afhandeling van die vierde rondte in vanjaar se reeks – daar is géén melkkoeie oor in dié gesogte klubtoernooi nie.
Dit is bewys in ’n naweek van skokke, waarin drie van die gunstelinge pak gekry het. Die afgelope naweek se uitslae het onteenseglik bewys dat geen wedstryd in vanjaar se reeks se uitkoms met sekerheid vooraf voorspel kan word nie. Dít is natuurlik ’n baie gesonde situasie, ten spyte van die feit dat slegs ses spanne effektief vir die Carltonbeker meeding.
* Die grootste skokv die afgelope naweek is gelewer deur die nuwelinge, Dragons, wat maar in hul derde wedstryd saam met die groot honde blaf, maar reeds deeglik seker gemaak het dat hul teenwoordigheid in dié liga nie ongesiens verbygaan nie. Dié klub uit die noorde van Pretoria het Polisie met 14-12 geklop om hul tweede oorwinning in drie wedstryde te behaal.
Polisie, wat met hul vol sterkte span opgedraf het, het hulle vasgeloop in ’n gedetermineerde span wat hulle in alle aspekte van die spel aangevat het en veral goed daarin geslaag het om hulle te verhoed om enige momentum te bou. Die Dragons moes boonop vir ’n tyd lank met ’n minderheid teen die Bobbies veg toe twee van hul spelers kort na mekaar met geelkaarte afgestuur is.
Dragons se vaskopstut, Jaco Coetzee, het die enigste drie van die wedstryd gedruk. Losskakel Marnus van Rensburg, het die res van die punte met drie strafdoele aangeteken, waarvan die laaste in die doodsnikke van die wedstryd deur die pale geseil het om die oorwinning te beklink.
* Ook Harlequins se oorwinning van 37-15 teen Centurion was ’n reuse skok vir alle belangstellendes in klubrugby. Centurion het die Blokkiestruie beslis onderskat, nadat hulle hul eerste twee wedstryde teen Naka Bulle en die Dragons verloor het. Onder die bekwame afrigting van Gert Mulder, Ludwich von Deventer en Fanie Nortjé het Harlequins egter weekliks verbeter, totdat hulle hierdie week in staat was om ’n top span soos Centurion te verras.
’n Interessante feit oor dié wedstryd, is dat Harlequins vier keer kon gaan druk teen Centurion se twee drieë. Dit is ’n aanduiding dat Quins die spel oorheers het.
* Die derde skok van die naweek was dalk nie vir almal so ’n groot skok nie. Naka Bulle se oorwinning van 23-17 teen die semi-professionele span van Impala is egter wel ’n aanduiding dat die manne van die Moot ook weekliks beter doen en dat hulle ernstig is om vanjaar ’n groot jaar te maak vir dié klub.
Naka Bulle se bestuur sal egter opgewonde wees oor die wyse waarop hul span veral in die laaste kwart van die wedstryd verdedig het om die Noordwesters van die doellyn weg te hou. Dit dui daarop dat die Moot-manne besig is om in ’n hegte span saamgesnoer te word en dit kan baie vir hulle beteken in die res van die veldtog. Dié span is propvol jong talent, wat die toekoms van die klub rooskleurig laat lyk.
* Tukkies het die afgelope naweek ’n loslootjie gehad, maar sal hul sokkies moet optrek in die volgende paar weke. Hulle lê tans heel onder aan die puntelys met net vier ligapunte.
* Eerskomende naweek behoort weer interessante aksie op te lewer. Harlequins steek Totiusstraat oor om Polisie aan te vat, Centurion gaan probeer om hul goeie rekord teen Tukkies op hul tuisveld te handhaaf en dan is daar die Moot vs Noord derby met Naka Bulle wat op hul tuisveld teen Dragons uitdraf.
