Naka Bulle wen Lucas Strachan skild
Naka Bulle se goeie seisoen het reeds vrugte afgewerp toe hulle die afgelope naweek die Lucas Strachan Skild verower het deur halfpad deur die Carltonliga bo aan die punteleer te eindig.
Na ’n paar seisoene waartydens klubrugby in Pretoria deur moeilke tye gegaan het, is die Blou Bulle se Carltonbeker toernooi weer besig om as die land se voorste klubliga gevestig te word.
Dít is die mening van Willem Strauss, vise-president van die Blou Bulle Rugby-unie en voorsitter van Carltonbeker komitee. Strauss het met Rekord gesels ná die interessante en bemoedigende uitslae wat die afgelope weke in dié liga opgelewer is.
Strauss het gesê hoewel daar tans net sewe spanne in hierdie liga speel, is die positiewe aspek van die liga dat daar weer ’n krag-teen-krag beginsel geld en dat enige van die sewe spanne enige ander span in die liga op ’n gegewe Saterdag kan klop, soos reeds bewys is.
“Nog ’n bewys dat ons standaarde drasties verbeter het, is die feit dat al die klubs se tweede- en derde spanne, asook hul junior spanne (o.21 en o.20) kompeterend is en dat een klub nie, soos in die verlede, in hierdie opsig uitstaan bo die res nie,” het Strauss opgemerk.
“Die kans is baie goed dat drie van die spanne wat tans deel is van die liga sal kwalifiseer om later vanjaar aan die Gold Cup deel te neem”, het Strauss opgewonde aan Rekord gesê.
Impala van Rustenburg, wat deelneem aan die Carltonliga en Pretoria Polisie het reeds gekwalifiseer vir dié nasionale toernooi, wat vroeër as die Gemeenskapsbeker bekendgestaan het en wat sedert vanjaar aan die einde van die seisoen sal plaasvind. Daar is ook nog die kans vir ’n derde span uit die Cartonliga om via ’n uitspeelfase teen klubs van ander unies te kwalifiseer vir die Gold Cup toernooi.
* Naka Bulle, die Carltonbeker klub in die Moot van Pretoria wat deesdae kookwater rugby speel, het intussen die afgelope naweek seker gemaak dat hulle die Lucas Strachan skild wen as die klub wat bo aan die punteleer geëindig het ná die eerste rondte van die toernooi. Hulle het dié skild verower al het hulle die afgelope naweek ’n loslootjie gehad.
* Centurion het hul eerste rondte afgesluit met ’n oorwinning oor die Dragons. Die manne uit die suide van die stad het die nuwelinge uit die noorde met 42-31 geklop.
* Pretoria Polisie het in Rustenburg pak gekry teen Impala. Die Noordwesters het die Bobbies met 44-26 geklop en in die proses sewe drieë gedruk.
* Tukkies het hulself reggeruk na hul swakste begin in baie jare in hierdie toernooi. Hulle het Harlequins, wat die afgelope tyd self goeie rugby begin speel het, oortuigend geklop. Die eindtelling was 66-3 in die studente se guns en daarmee het Tukkies waarskynlik gewys dat hulle nie sommer so na ’n paar swak vertonings afgeskryf kan word nie. Tuks is ’n trotse klub en ’n mens kan verseker wees dat hulle nie sonder ’n geveg van hul titel as kampioene afstand sal doen nie.
* Die tweede rondte van die liga begin reeds eerskomende naweek. Centurion speel op hul tuisveld teen Polisie, Tukks reis na Rustenburg om Impala aan te vat en Harlequins sal gasheer speel vir Naka Bulle. Die Dragons het ’n loslootjie.
