Die verhaal van Pretoria se ander Comrades held
Johan Nel van Centurion was vanjaar die eerste grootmeester oor die wenstreep by die Comrades marathon.

Die prestasie van Pretoria se twee vroulike Comrades marathon sterre, Charné Bosman en Caroline Wöstmann, het die afgelope weke baie aandag geniet.
Intussen was daar egter nóg ’n Pretorianer wat dié stad trots gemaak het met sy puik vertoning in dié wêreldbekende ultra marathon. Ongelukkig het die 62-jarige Johan Nel van Centurion se prestasie minder aandag getrek.
Nel was amptelik die eerste grootmeester (op Engels die sogenaamde “grand master”), wat die ouderdomsgroep 60-69 verteenwoordig. Sy tyd van 8:07:41 was sowat 18 minute beter as die tweede atleet in hierdie kategorie, wat beteken dat Nel se oorwinning merkwaardig was.
Dit was Nel se eerste oorwinning in die Comrades, maar dié gewilde lid van die Irene Atletiekklub is reeds ’n bekende gesig op die podium van marathons en ultra marathons oor die land heen.
Dié pa van twee seuns en oupa van drie kleinkinders se loopbaan as padatleet het minder as 20 jaar gelede op 44-jarige ouderdom begin, maar hy het intussen opgemaak vir verlore jare met sy puik prestasies. Hy vertel dat hy nog altyd ’n kompeterende geaardheid gehad het en sedert sy skooldae in Namibië aan sport soos gimnastiek en swem deelgeneem het. Na skool het hy fiks gebly en selfs ’n bietjie klubrugby gespeel. Hy is ook ’n ywerige fietsryer wat steeds die speke laat sing en al vier keer die bekende 94,7 fietswedren in Johannesburg voltooi het.
Dit was egter eers in 1998 wat die hardloop-gogga hom behoorlik gebyt het toe hy uitgenooi is om saam met kollegas aan ’n besigheids-aflos wedloop deel te neem. Ná daardie ondervinding was daar geen keer meer aan Johan Nel die padatleet nie en kort daarna voltooi hy sy eerste 10km aandwedloop in 53 minute.
Intussen het hy as destydse werknemer van Iscor by die Iscor Pretoria Atletiekklub (IPAC) aangesluit en ernstig begin deelneem aan wedlope. Skaars ses maande nadat hy aan die sport begin deelneem het, voltooi hy sy eerste standaard marathon in 4 uur en 17 minute.
Nel het die hardlopery soveel geniet dat hy ’n jaar later in die eerste ses maande van 1999 sommer vier ultra marathons – die Om die Dam in Hartbeespoort, die Lopkop marathon, die Twee Oseane en die Comrades – kafgedraf het. Hy het sy eerste Comrades in 9 uur en 54 minute voltooi.
In 2003 moes Nel die langpad vir eers groet weens persoonlike- en werskomstandighede en vir byna 10 jaar het hy fiks gebly deur nou en dan ’n 10km wedloop aan te durf, terwyl hy ook aan die gewilde sogenaamde ‘Trail Running’ begin deelneem het.
Hy beskou sy grootste prestasie in laasgenoemde formaat van die hardloop-sport die feit dat hy die bekende Kalahari Augrabies Extreme marathon voltooi het. In dié marathon volg atlete ’n uitdagende roete oor moeilike terrein in skofte oor sewe dae.
In dieselfde era voor sy terugkeer na marathons het Nel ook sogenaamde Dawn to Dusk marathon in Akasia twee keer gewen. In dié marathon, wat enkele dae duur, hardloop atlete om ’n baan van 1 kilometer met minimum ruskans tussenin en die totale afstand wat afgelê is bepaal die wenner.
Intussen het Nel se situasie drie jaar gelede weer verander. Hoewel hy steeds voltyds werk in die IT-bedryf, kon hy weer terugkeer na langer ure op die pad. Deesdae sien inwoners van Highveld in Centurion, waar hy en sy vrou Sylvia woon, weer gereeld sy bekende postuur in die strate van dié voorstad hardloop. Nadat hy by die Irene Atletiekklub aangesluit het, het Nel ’n ernstige kompeteerder in die grootmeerster kategorie geword. Verlede jaar was hy die vierde grootmeester in die Comrades, maar sy podium posisies in verskeie marathons en ultra marathons het intussen gewys dat hy reg is vir groter dinge. Hy het vanjaar byvoorbeeld ook die Om die Dam marathon (50km) gewen, terwyl hy tweede was in die Loskop marathon (50km). Hy was vierde in die Twee Oseane, maar tussendeur het hy ’n hele paar standaard marathons gewen.
So, wat is volgende? Is daar nog doelwitte vir Pretoria se grootmeester ster? “Sonder twyfel,” is Nel se besliste antwoord. Hy wil sy groen nommer in die Comrades (10 voltooi) verdien en hy wil ook ’n aanslag maak op die grootmeester titel in die Twee Oseane marathon.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
