Geen einde aan Dragons se segetog
Vir die eerste keer in jare stuur die Carltonbeker liga af op ’n spannende einde en ’n hewige stryd gaan tussen vyf klubs heers die vier plekke in die halfeindrondte.

Tot onlangs was elke oorwinning van die Dragons in die Carltonbeker liga ’n skok vir almal wat klubrugby in Bloubulland volg.
Nadat dié nuwelinge in die liga daar uit die noorde van die stad egter die afgelope naweek hul sesde oorwinning van die seisoen behaal het, kan ’n mens dit nie regtig meer ’n skok noem nie, want ’n mens begin verwag dat hulle in elke wedstryd waarin hulle betrokke is wel ’n kans sal hê om te wen. Toe hulle egter die afgelope Saterdag die voorlopers op die punteleer klop, kon dit nie anders as dat dié klub opnuut skokgolwe deur die klubrugby-gemeenskap gestuur het nie.
* Die Dragons het Naka Bulle op hul tuisveld in Pretoria-Noord met 23-20 geklop. Dit was ’n taai stryd, waarin albei spanne elk drie drieë gedruk het. Slegs ’n strafdoel deur Emilio Duvenhage, heelagter van die Dragons, het die verskil tussen die twee spanne beteken.
Hierdie oorwinning van die nuwelinge plaas enorme druk op Naka Bulle ten opsigte van hul strewe om as die top oopklub op die punteleer te eindig en ’n kans te kry om vir die Gouebeker toernooi later vanjaar te kwalifiseer. Dit beteken dat die manne van die Moot albei hul laaste wedstryde teen Impala en Polisie sal móét wen om die top oopklub te bly.
Die afgelope naweek se oorwinning was die Dragons se derde agtereenvolgende en as hulle hierdie kragtoer kan voortsit kan hulle self nog as top oopklub eindig.
* Intussen het Tukkies byna ongesiens in vyf weke van heel onder tot heel bo op die punteleer geklim. Hulle het die afgelope naweek hul vyfde agtereenvolgende oorwinning behaal deur Centurion maklik met 51-6 af te ransel. In die proses het die studente agt keer gaan druk, terwyl Centurion nie een keer die doellyn kon haal nie.
Tukkies het met hierdie oorwinning nie net die eerste plek op die punteleer ingeneem nie, maar ook wraak geneem vir die nederlaag teen Centurion vroeg in Meimaand. Die studente is duidelik weer op koers ná hul insinking in die eerste rondte en hulle is tans die span om te klop.
Die nederlaag is Centurion se tweede agtereenvolgende pakslae en dié span, wat in Meimaand nog na een van die gunstelinge in die toernooi gelyk het, sal drasties hul sokkies moet optrek as hulle nie in die pylvak ’n plek in die uitspeelrondtes wil verbeur nie.
* In die naweek se derde wedstryd het Polisie vir ’n slag momentum opgebou met ’n goeie oorwinning van 39-21 oor hul bure van oorkant Totiusstraat, Harlequins. Polisie het ’n welkome bonuspunt verdien met hul sewe drieë, terwyl die Blokkiestruie net drie keer kon gaan druk.
Polisie se ondersteuners sal hoop dat hierdie oorwinning die begin van ’n terugvegpoging vir hul manne sal wees, aangesien hulle al drie hul laaste ligaverpligtinge sal moet wen om nog ’n kans te staan om vir die uitspeelrondtes te kwalifiseer. Dit sal ’n groot poging verg, aangesien die Bobbies nog teen Dragons, Impala en Naka Bulle moet speel.
* Eerskomende naweek speel Bobbies juis gasheer vir die Dragons, terwyl Naka Bulle Rustenburg toe moet reis om Impala daar aan te vat. Die sukkelende Harlequins speel teen Centurion op laasgenoemde se tuisveld in die skadu van die Gautrein spoorlyn.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
