Local sportSport

Oos-Moot maak weer skoonskip in VirSeker Beeldtrofee

Oos-Moot het gewys hul rugby is steeds kerngesond toe al vier hul spanne weer deurgedring het na die Blou Bulle finaal van die VirSeker Beeldtrofee.

Die Hoërskool Oos-Moot het verlede week op Jeugdag weer skoonskip gemaak in hul liga toe al vier hul spanne deurgedring het na die eindstryde van die VirSeker Beeldtrofee vir Grootskole in die Blou Bulle streek.

Al die halfeindstryde is op Oos-Moot se velde in Villieria afgehandel.

Die o.14 span van Oos-Moot sal op 23 Julie sake teen Midstream College uitspook in die Blou Bulle-eindstryd van dié gesogte reeks, terwyl hul o.15, o.16 en eerstespanne op dieselfde dag almal teen Hoërskool Pretoria-Noord sal speel.

Al die plaaslike eindstryde sal op Loftus Versfeld gespeel word.

Oos-Moot se eerstespan het stadig begin in hul halfeindstryd teen Hoërskool Tuine, maar na sowat 20 minute se spel het dit duidelik geword dat hulle die sterker span op die veld is. Hul voorspelers het spel stelselmatig begin oorheers en agter ’n stewige vaste vyf het Oos-Moot se skitterende lostrio baljaar. Veral die flank Dean Steinobel het die veld vol gespeel.

Tiaan de Lange, flank van Oos-Moot in aksie in verlede week se Grootskole halfeindstryd in die VirSeker Beeldtrofee tussen Oos-Moot en Tuine. Foto: Nico Kotze
Tiaan de Lange, flank van Oos-Moot in aksie in verlede week se Grootskole halfeindstryd in die VirSeker Beeldtrofee tussen Oos-Moot en Tuine.
Foto: Nico Kotze

Agter hierdie pak voorspelers het losskakel Gert Nel die spel beheer en die druk op sy span gereeld verlig met sy indrukwekkende skopvoet.

Teen rustyd het die tuisspan reeds met 28-7 voorgeloop en hulle kon spog met drie drieë teen die enkele drie van Tuine.

Terloops, dié drie van Tuine was ’n juweel, gedruk deur buitesenter Gert Strydom. Hy het die lyn op volspoed gesny om Oos-Moot se verdediging oorhoops te vang en onder die pale te gaan druk na ’n lopie van sowat 30 meter. Nog een van Tuine se uitblinkers, agtsteman Christiaan Westerfelt, se harde werk is ongelukkig ongedaan gemaak deur die geelkaart wat hy ontvang het. Sonder hom het sy spanmaats erg begin sukkel.

Vroeg in die tweede helfte het die spanning van die geleentheid vir ’n paar manne te veel geraak en daar was ’n onnodige insident, waarna ’n speler van elke span elk in die skeidsregter se geelkaart moes vaskyk. Gelukkig is die dissipline deur die ferm optrede van die sekidsregter herstel en die spel kon sonder probleme voortgaan.

Oos-Moot het egter die res van die tweede helfte oorheers, omdat Tuine byna geen balbesit kon kry nie. Nóg vyf drieë in die laaste halfuur het die tuisspan in staat gestel om die wedstryd met 57-7 te wen. Hulle sal nou in die eindstryd teen Pretoria-Noord te staan kom, wat self hul halfeindstryd teen Midstream College op ’n drafstap gewen het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button