Pretoria-Noord in VirSeker Beeldtrofee eindstryd
Nadat hulle verlede jaar in die halfeindrondte van die VirSeker Beeldtrofee toernooi deur Oos-Moot uitgeskakel is, kry Pretoria-Noord vanjaar die kans om wraak te neem in die eindstryd.
Drie van Hoërskool Pretoria-Noord se rugbyspanne sal op Saterdag 23 Julie sake teen Hoërskool Oos-Moot uitspook om die Blou Bulle streek se kampioene in die VirSeker Beeldtrofee vir Grootskole te bepaal.
Pretoria-Noord se o.15’s, o.16’s en eerstespan het almal verlede week op Jeugdag in die halfeindrondte van die toernooi met hul eweknieë van Midstream College afgereken om deur te dring na die eindstryd. Al die halfeindstryde het op die velde van Oos-Moot plaasgevind.
Die wedstryd tussen die eerstespanne, wat met 49-23 deur Pretoria-Noord gewen is, was aanvanklik baie hard en taai en die eerste punte is eers na sowat ’n kwartier se spel aangeteken. Dié punte het gekom via ’n drie vir Pretoria-Noord – die eerste van die agt keer wat hulle uiteindelik agter die doellyn gaan kuier het.

Foto: Nico Kotze
Die Swarttruie van die noorde het uit die staanspoor voorlangs die pap dik aangemaak en veral in die vaste skrums oorheers. Hul verdediging was ook aanvanklik puik en verskeie aanslae van Midstream is in die eerste helfte afgeweer. Die haker Kayl Arrow het veral die oog gevang met ’n paar vreeslose laagvatte.
In die eerste 20 minute van die tweede helfte het Pretoria-Noord die oorwinning beklink met skitterspel, waartydens hulle vier keer gaan druk het. In hierdie fase het hulle Midsream voorlangs heeltemal oorheers. Met manne soos Arrow, asook die twee woelige flanke, Fanie Driescher en Austin Dry aan die voorpunt vir Pretoria-Noord, het die Midstream-pak bittermin van die bal gesien.
Pretoria-Noord se bestuur sal egter hard moet werk aan hul span se fiksheid en fokus. Nadat hulle so ver voor was het hulle konsentrasie verloor en Midstraem toegelaat om in die laaste kwartier drie keer te gaan druk. Teen ’n span soos Oos-Moot sal hierdie gebrek aan fokus fataal wees.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
