Carltonbeker – spanning tot by die laaste rondte
’n Hewige stryd lê nog in die laaste twee ligarondtes van die Carltonbeker kompetisie voor om die vier finaliste vir die halfeindrondte te bepaal.
Die spanning en drama in vanjaar se Carltonbeker toernooi gaan beslis tot die heel laaste wedstryd duur, want daar is baie op die spel vir verskeie klubs.
Ná Polisie se twee puik oorwinnings die afgelope twee weke sal almal tot die heel laaste ligastryd van die seisoen moet wag om te sien wie die vier halfeindrondte kandidate is, terwyl daar ook steeds ’n hewige stryd heers tussen Centurion, Dragons en Naka Bulle om as die top oopklub te eindig. Die klub wat dit regkry sal die geleentheid kry om via ’n uitspeelfase saam met Polisie vir die Gouebeker stryd later vanjaar te kwalifiseer.
Slegs Harlequins is op hierdie stadium reeds uit die prentjie wat die uitspeelrondtes betref.
* Naka Bulle het hulself in die voet geskiet deur hul laaste drie ligabepalings teen die Dragons, Impala en Polisie te verloor. Impala het hulle twee weke gelede met 30-26 geklop, terwyl Polisie die tweestryd tussen dié twee spanne die afgelope Saterdag met 29-21 gewen het. In die proses het Polisie ’n bonuspunt verden, terwyl Naka Bulle geen ligapunte kon insamel nie.
Hoewel Naka Bulle tans nog tweede (ná Impala) op die punteleer lê, is hul ligabepalings nou afgehandel en hul lot is dus nie meer in hul eie hande nie. Hulle sal nou hoop dat die Dragons eerskomende naweek vir Centurion klop, sonder om ’n bonuspunt te verdien, terwyl Centurion boonop ook geen ligapunte mag kry nie. Daarna sal die manne van die Moot boonop moet hoop dat die Dragons ná die universiteitsvakansie ook teen Tukkies verloor, sonder enige bonuspunte. Dít is die enigste manier waarop Naka Bulle steeds as die top oopklub naas Polisie kan eindig.
Op hulle beurt sal Polisie vir presies dieselfde uitslae vir die Dragons hoop, terwyl hulle dan eerskomende naweek vir Impala behoorlik moet klop en ’n bonuspunt moet verdien om die uitspeelrondtes van die Carltonbeker kompetisie te haal. Polisie het hulself ná middelmatige vertonings vroeër reggeruk en die afgelope drie weke met Harlequins, Dragons en Naka Bulle afgereken.
* Hoewel Centurion verlede naweek vir Harlequins met 31-21 geklop het, was dié oorwinning nie werklik oortuigend nie. Die manne uit die Suide het die kans deur hul vingers laat glip om reeds vir die Carltonbeker uitspeelrondtes te kwalifiseer deur nié daarin te slaag om vier drieë te druk nie. Trouens, hulle en Quins het dieselfde hoeveelheid drieë (3-elk) behaal.
Centurion sal dus nou eerskomende naweek met Dragons moét afreken as hulle in die wedloop wil bly om as top oopklub te kwalifiseer. As hulle die Dragons kan verslaan sal hulle boonop hul plek in die Carltonbeker halfeind bespreek.
Hoewel Harlequins laaste op die punteleer eindig en die afgelope naweek weer met 43-27 pak gekry het by Impala, was hulle baie kompeterend in die liga en hulle sal nie maklik deur enige klub in die B-liga geklop word as daar promosie-relegasie wedstryde moet plaasvind nie.
* Tukkies was as gevolg van die Universiteitsvakansie en die jaarlikse Ussa (University Sport South Africa) kompetisie die afgelope twee weke nie in aksie nie, maar staan steeds ’n goeie kans om heel bo aan de punteleer te eindig. Hulle moet nog teen Harlequins en Dragons speel om hul ligaverpligtinge te voltooi.
