Oos-Moot o.16’s deur na halfeindstryd
Hoërskool Oos-Moot se rugbyspanne het gemengde sukses behaal in die afgelope naweek se kwarteindstryd in die VirSeker Beeldtrofee toernooi.
Die einde van die pad het wel vir die Hoërskool Oos-Moot se eerstespan aangebreek in vanjaar se VirSeker Beeldtrofee toernooi, maar dié skool se o.16 span staan steeds sterk in hul opmars na die eindstryd.
Hoewel die eerstespan nooit die gunsteling was teen die sterk span van Helpmekaar Kollege in Johannesburg nie, het hulle steeds baie goed van hulself rekenskap gegee. Oos-Moot kon twee keer gaan druk, maar hul teenstanders het een keer meer die doellyn gehaal en dit was basies die verskil tussen die twee spanne in ’n wedstryd wat met 30-18 deur die Johannesburgers gewen is.
In die stryd tussen die o.16 spanne het Oos-Moot egter die bordjies verhang met ’n goed afgeronde vertoning. Helpmekaar het in hierdie wedstryd van die begin af die tempo probeer opjaag en hulle was vroeg reeds met 8-0 voor. Oos-Moot se manne het egter hul karakter gewys en stadig maar seker het hul voorspelers die oorhand begin kry, terwyl hul agterspelers soos tiere verdedig het.
Na rustyd moes Helpmekaar baie hard werk vir hulle tweede drie, maar Oos-Moot het toe reeds die krag van hul voorspelers gewys met ’n drie vanaf ’n rolmaal-beweging.
Die spanning het egter begin opbou en met die telling op 13-7 in die guns van Helpmekaar het Oos-Moot se ondersteuners naels gekou langs die veld.
Met net twee minute oor in die wedstryd het die skeidsregter ‘n strafskop toegeken aan Oos-Moot. Die Pretorianers het geen keuse gehad nie, hulle móés net nog ’n drie probeer druk. Hulle het die bal lyn toe geskop en vanaf die lynstaan weer hul krag met ’n dryfbeweging gewys. Die drie is toegeken en ná die suksesvolle doelskop was Oos-Moot met 14-13 voor.
Tot groot vreude en verligting van Oos-Moot se spelers en ondersteuners het die eindfluitjie kort daarna geblaas en Oos-Moot se o.16 span sal nou alleen hul skool se vlag moet dra in die halfeindstryd.
Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord onFacebook, follow us on Twitter or Instagram.
- We have exciting news! We’re offering a free alert to help you always be in the loop. Send an email with the word ‘Subscribe’ to breakingnews@rekord.co.za to receive your free daily breaking news update.
