Local sportSport

Garsies wéér die kampioen

Die Hoërskool Garsfontein het Dr. EG Jansen in die eindstryd van die Vir Seker Beeldtrofee met vlugvoetigheid, durf en nét 14 man geklop.

Nie baie skole kon dit in die verlede regkry om die VirSeker Beeldtrofee vir Makro Skole twee jaar agtereenvolgens te wen nie. Hoërskool Garsfontein het daarom die afgelope naweek geskiedenis gemaak toe hulle die Oos-Rand se rugbykrag, Hoërskool Dr. EG Jansen, in die eindstryd van dié toernooi met 32-28 geklop het.

Net soos verlede jaar het die Garsies se Bere dit ánders gedoen as die res. Daar was geen sprake van ’n konserwatiewe benadering met persentasierugby, soos eindstryde gewoonlik benader word nie. Dan het hulle die manne van Boksburg boonop oorrompel nadat hulle vir driekwart van die wedstryd met 14 man moes klaarkom.

Kom ons begin by die negatiewe. Nadat albei spanne een keer gaan druk het in die eerste kwartier van die wedstryd, het die spanning hoog geloop. Na sowat 18 minute se spel het Garsies se skrumskakel, die Jong Bokkie Embrose Papier, met ’n flink beweging die slot PJ Steenkamp in die hoek oorgestuur vir Garsies se tweede drie. Terwyl Steenkamp oorgeduik het, het ’n onderonsie reg voor die hoofpaviljoen (én reg voor die lynregter) ontstaan waarin ’n speler van EG Jansen vir Papier met die vuis platgeslaan het. Garsies se buitesenter, Abner van Reenen, het tussenbeide getree en in die gestoei wat gevolg het ook ’n hou of twee ingekry. Hy is daarna deur die skeidsregter in samewerking met die lynregter as die sondebok uitgewys en moes die veld met ’n rooikaart verlaat. Geen speler van EG Jansen is gestraf nie, maar die drie van Steenkamp is steeds toegeken. Na die doelskop is daar egter ’n strafdoel aan EG Jansen op die middelkolletjie toegeken. Vreemd, inderdaad.

Asof dit nie genoeg was nie het die skeidsregter twee minute voor die eindfluitjie ’n aandeel daarin gehad dat EG Jansen se agterstand sodanig gekrimp het dat hulle ’n kans gestaan het om die wedstryd te wen. Dit was toe hy die Oos-Randers se laaste drie toegeken het, nadat daar ’n blatante vorentoe aangee in die vooraf beweging voorgekom het.

Papier het egter die laaste sê gehad, want sy tweede drie het die seël geplaas op sy rugbyloopbaaan by Garsfontein en dit het bevestig dat hy vir jare nog ’n legende by dié skool sal wees. Vir sy eerste drie het hy sowat 80 meter tussen die EG Jansen-manne deur genael en niemand sou dink dat hy daarop kon verbeter nie. Toe kom sy tweede, sowat halfpad deur die tweede helfte. Sy span was op daardie stadium gerieflik voor en mens sou dink hulle sou konserwatief begin speel. Maar nie Embrose Papier nie. Hy en sy losskakel, Austin Davids, het gereeld deur die loop van die wedstryd omgeruil en dié keer was dit weer so. In plaas van om op sy eie doellyn onder druk kantlyn toe te skop, het Papier ’n gaping geslaan, sy ore platgetrek en rieme neergelê doellyn toe. ’n Paar bokspronge later en met verbysterende vaartversnelling het hy EG Jansen se hele agterlyn geklop en sierlik oorgeduik nadat hy die volle lengte van die veld genael het.

Garsfontein kan dus nie net spog dat hulle twee jaar agtereenvolgens die beste rugbyskool noord van die Vaalrivier is nie, maar ook dat hulle dié trofee telkens op hul eie, onkonvensionele, manier kon impalm. Verlede jaar het hulle dit gedoen met ’n legendariese terugvegpoging en vanjaar moes hulle met 14 man veg. Dié groep spelers sal beslis nog lank in die annale van Garsfontein se rugby onthou en bespreek word.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button