Tuine-seun droom van rugbytoer na Rusland
Hy word eers oor ‘n paar weke 17, maar Henrico Snyman laat reeds die kenners regop sit met sy spogspel op die rugbyveld.

Hoewel hy nie vir een van die stad se top skole rugby speel nie, kan Hoërskool Tuine se eerstespan loskopstut, Hendrico Snyman, gerus dopgehou word deur die manne wat met rugby-tjekboeke rondloop.
Hy word eers in Oktober vanjaar 17, maar dié jong kragreus is reeds besig om sy merk op die rugbyveld te maak.
Reeds as jong seun by Laerskool Simon Bekker het hy op die rugbyveld begin uitblink. Daar is hy deur die Blou Bulle se laerskole keurders raakgesien en hy was in graad ses en graad sewe deel van die Bloubul span by die o.13 Cravenweek.
Op daardie stadium het die ryk Hoërskole in die Ooste van Pretoria reeds tou begin staan om hom te werf, maar Snyman het verkies om saam met sy laerskoolmaats na Hoërskool Tuine te gaan.

By Hoërskool Tuine het hy vanjaar as graad elf seun reeds vir die eerstespan uitgedraf en hoewel hy uitgenooi is na die proewe vir die Blou Bulle se o.18 Cravenweekspan, het hy in die laaste rondte uitgeval. Dié beweeglike stut speel ook sewesrugby vir die Grizzlies van Tuine Sportklub.
Hy is egter deur die keurders van die Noord-Transvaal span vir die bekende AVS Bokkieweek raakgesien en gekies om dié provinsie by die nasionale kampioenskap in Kroonstad te verteenwoordig.
Kort daarna het die Sharks se gesogte Rugby-akademie hom genader om by hulle aan te sluit, maar toe kry hy ook die geleentheid om vanjaar nog na Rusland te toer saam met die nasionale Bokkiespan, waarvoor hy intussen gekies is.
Vir Snyman was die keuse maklik. Wie kry dan sommer die kans om as skoolseun in Rusland te toer? Die span vertrek vroeg in Oktober en toer dan vir tien dae na stede soos Moskou en St. Petersburg.
Snyman en sy vriende en familie is tans nog hard besig met die insamel van fondse, want die toer in nie goedkoop nie. Hy is die enigste speler uit Pretoria wat vir die toerspan gekies is, maar ongelukkig moet hy self die fondse insamel om dit moontlik te maak. Hulle werk egter hard om hierdie droom vir hom moontlik te maak.
Onthou dus die naan Hendrico Snyman. Hierdie seun het groot drome vir sy rugbytoekoms en sy prestasies tot dusver wys dat hy, met die regte geleenthede, beslis nog groot hoogtes as rugbyspeler kan bereik.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
