Local sportSport

Bobbies vaar puik in Gouebeker toernooi

Pretoria Polisie is bo aan die punteleer in hul groep in die Gouebeker toernooi, na twee puik oorwinnings in hul eerste twee wedstryde.

Na twee wedstryde loop Pretoria Polisie voor in hul afdeling (Afdeling D) in die nasionale Gouebeker klubkampioenskap.

Die Bobbies van Pretoria speel in dié afdeling toevallig saam met drie ander Polisie klubspanne (Port Elizabeth, Oos London en Bloemfontein), asook die Sishen klub uit die Noord-Kaap.

Nadat Centurion in die uitspeelwedstryde in die doodsnikke van hul wedstryd teen College Rovers van Durban verloor het, is Pretoria Polisie nou die enigste plaaslike span wat die Blou Bulle se eer moet verdedig in die Gouebeker kompetisie.

Nico Luus se span het hul veldtog twee weke gelede afgeskop toe hulle Noord-Kaap toe moes reis om op Kathu teen Sishen te speel. Dié wedstryd het die Bobbies redelik maklik met 44-17 gewen, nadat hulle agt drieë ingeryg en slegs twee afgestaan het.

Ivan Venter, vleuel van Pretoria Polisie, word vasgevat deur ’n teenstander van PE Polisie in Vrydagaand se Gouebeker wedstryd op Loftus Versfeld. Foto: GB Jordaan
Ivan Venter, vleuel van Pretoria Polisie, word vasgevat deur ’n teenstander van PE Polisie in Vrydagaand se Gouebeker wedstryd op Loftus Versfeld.
Foto: GB Jordaan

Vrydagaand het Bobbies die voorreg gehad om hul eerste tuiswedstryd as ’n voorwedstryd vir die Curriebeker stryd tussen die Blou Bulle en Griekwas op Loftus Versfeld te speel.

Onder die leiding van Ryno Wasserman en die veteraan skrumskakel, Hendrik van der Nest, het die Bobbies in dié wedstyd ook vyf keer agter die doellyn gaan kuier om uiteindelik met 40-24 te wen.

Hierdie stryd was egter moeiliker as wat die telbord aandui, want teen rustyd was die Pretorianers nog met 10-17 agter teen Port Elizabeth se Polisie. Na rustyd het hulle egter beheer oorgeneem en vier keer gaan druk, terwyl die manne van die Oos-Kaap ses minute voor die eindfluitjie hul enigste drie van dié helfte kon druk.

Na twee rondtes is Wasserman en sy makkers nie net met volpunte bo-aan die puntelys in afdeling D nie, maar hulle het tans die meeste drieë van al 20 die spanne in die kompetisie gedruk.

Vir hul volgende wedstryd reis Pretoria Polisie eerskomende Saterdag na Bloemfontein, waar hulle teen Bloemfontein Polisie te staan sal kom.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button